DIE VENDUSIE
  Daar word vertel dat die duiwel op 'n keer bankrot gespeel het en dat hy al sy gereedskap moes verkoop aan enigeen wat bereid was om die regte prys te betaal.
Op die aand van die vendusie was al die gereedskap pragtig uit-gestal en het die hele bose lot daar gelê: daar was jaloesie, afguns, haat, onsedelikheid, owerspel, moord, vyandskap, woede, en al die ander bose stukke gereedskap, elkeen met sy prys.
Maar aan die een kant, apart van die ander gereedskap, het 'n stuk gereedskap gelê wat duidelik al baie gebruik was. Dit het 'n prys gehad wat baie hoër was as al die ander.
Iemand vra toe vir die duiwel watter stuk gereedskap dit dan was. Hy antwoord toe: "Dit is MISMOEDIGHEID."
"Nou waarom is dit dan so duur?" wou die persoon weet. "Omdat dit vir my baie nuttiger is as al die ander," het die duiwel gesê.
"Met mismoedigheid kan ek iemand se bewussyn binnedring terwyl ek dit nie kan doen met enige van die ander gereedskap nie. En as ek eers binne is, kan ek dit gebruik net soos dit my pas. Die stuk is al só gehawend, want ek gebruik dit op byna elke mens. Want sien, baie min mense weet dat mismoedigheid eintlik aan my behoort."
Mismoedigheid se prys was so hoog dat die duiwel dit nog nooit kon verkoop nie... Hy besit en gebruik dit nog steeds.
Op die vooraand van Sy kruisiging sê Jesus aan Sy dissipels in Johannes 16:33(b):
"In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin."
Dikwels word ons so oorweldig deur ons omstandighede, ons skuldgevoelens en ons lyding dat ons ophou om te glo, dat ons moed verloor. Dinge kan soms vir ons so moeilik raak, die wêreld kan ons só druk dat ons nie meer wil glo in God nie. Soms is dit so erg dat ons begin om God te blameer vir wat met ons gebeur...
Dan wil ons niks meer met Hom te doen hê nie...
Jesus het geweet dat ons sulke dae sal ervaar.
Hy het geweet dat daar tye sal kom wanneer ons sal verval in mismoedigheid, wanneer ons met die hande in die hare sal sit en uitroep: "Here, waarom? Here, waarheen nou? Here, ek kan nie meer nie!"
Dit is waarom Hy vir ons vandag sê, "Hou goeie moed! Moenie moed verloor nie. Moenie toelaat dat die duiwel jou wysmaak dat daar nie 'n einde aan die probleme, of 'n uitweg is nie. Ek is hier en Ek het die wêreld reeds oorwin." HY HET ALREEDS DIE OORWINNING VIR JOU BEHAAL AAN DIE KRUIS!
Hy het alreeds jou smart, jou lyding, jou swaarkry, jou probleme, jou bekommernisse op Hom geneem en die prys daarvoor betaal.
DAAR IS HOOP VIR JOU, WANT HY LEWE!
Roep Hom vandag aan en Hy sal jou laste op Hom neem. Hou net goeie moed!
Gebed:
Here, help my om nooit mismoedig te word nie! Help my om my oog op U gevestig te hou!

Indeks     Index