GEEN GRAF VIR MY BLOMME
  Een laatmiddag klop ek aan haar kamerdeur. Weer en weer klop ek. Geen antwoord nie. Uit desperaatheid klop ek by die buurman aan. "Ek is jammer om te pla, Oom. Ek wil net hierdie paar rose en die pakkie by Oom los vir tant Rosie. Dit lyk my sy's nie daar nie."
"Hou maar die blomme vir haar graf," mompel hy waar hy op sy kierie leun. "Die ambulansmanne het haar gister kom haal nadat die opsigter oopgesluit het. Sy het pille gesluk en 'n brief op die bedkassie gelos."
Sy wou so graag na haar huis teruggaan om daar te sterf. Na haar man se dood het haar seun die huis gekry en sy ma in die piepklein kamertjie in Hillbrow kom weggooi. Haar seun het haar pensioen en finansies hanteer en soms maande lank nie van hom laat hoor nie. Dan het sy maar by die kerk kom kos vra. Tant Rosie moes eintlik hospitaal toe vir die kanker, maar sy het haar seun gevra om haar terug te neem huis toe. Sy wou in haar ou kamer met die baie son sterf. Maar hy het haar nie kom haal nie.
Sy't die laaste tyd so gebid dat Hy haar moes kom haal. Sy kon die eensaamheid en die kankerpyne nie meer verduur nie. Toe trek sy maar haar aardse kamerdeur agter haar toe en reis sielsalleen na haar mooi kamer vol lig en liefde… In die siklus van die lewe kan 'n baba nie oorleef sonder 'n ouer wat hom versorg nie. Wanneer die ouer egter die brose een word, is dit 'n kind se plig om sy ouer te versorg. Wat loop dan skeef tussen ouers en kinders dat soveel bejaardes verwaarloos en eensaam in klein kamertjies doodgaan? Word kinders nog grootgemaak met respek vir ouer mense? Respek vir bejaardes word immers aan moedersknie geleer. Gaan laerskoolkinders nog na huise vir bejaardes om te sing: "Liefste Tannie, ons bring rosies…?" Word hulle nog geleer van eer jou vader en jou moeder…?
Tant Rosie se seun het gesê hy't nie geld vir 'n begrafnis nie. Hy't haar liggaam vir mediese navorsing geskenk – sommer daar by die hospitaal toe hy haar moes gaan uitken. Sy moeder se lyf, wat hom vasgehou en gevoed het toe hy klein en broos was, lê nou nakend voor jong mediese studente wat grappies maak om hulle verleentheid te verberg. Ek wou huil, want daar was nie eers 'n graf vir my blomme nie…

[Uit: Hillbrow is nie vir sissies nie, Elise Bosch, Templer Industries (Pty) Ltd].

Indeks     Index