DANK AAN ONS HEMELSE VADER!
 

Twee jaar gelede het 'n klein seertjie op my neus verskyn. Ek het vir 'n jaar lank alle soorte boererate en salwe gebruik, maar die seer het net groter en groter geword en verskriklik gejeuk. Dit was baie onooglik en wanneer ek my gesig gewas of gestort het, het die seer gebloei.

Ek is later na staatsdokters wat vir my gesê het dat dit velkanker is. Ek ly ook aan 'n longprobleem en hulle verwys my toe na Baragwanath-hospitaal, maar daarvoor het ek nie kans gesien nie. Een van die dokters het vir my allergiepille voorgeskryf vir die gejeuk, maar dit het niks gehelp nie.

My man het dr. Mouton gaan spreek om te verneem of daar enige behandeling is wat my kon help, aangesien die seer verder versprei het op pad na my oë. Hy stel toe voor dat ek gaan vir bestraling, omdat my longe te swak is vir narkose, en gee ons 'n brief om vir die staatsdokter te gee.

Een van hierdie dokters verwys my dadelik na die keel-, neus- en oorspesialis, dr. Tiedt. Hy was ontsteld omdat ek tóé eers by hom uitgekom het en stel voor dat die seer onmiddellik uitgesny moet word. Ek vra hom of ek 'n paar dae kan kry om daaroor na te dink. Hy gee my 'n week kans, maar dink nie dat ek weer sal terugkom na hom toe nie.

Ek het daardie week elke aand my Vader gevra dat Hy my 'n teken moet gee of ek die operasie moet laat doen. Ek moes die Maandag weer na dr. Tiedt toe teruggaan.

Sondagoggend 03:00 maak ek my man wakker en sê vir hom dat ek duidelik 'n Stem gehoor het wat sê: "Hattie, jy het geen keuse nie. Jy moet gaan dat die seer uitgesny word, want dit is op pad na jou oë."
Maandag is ek dokter toe en hy kon nie glo dat ek weer gekom het nie. Ek vertel hom van die Stem van my Vader wat met my gepraat het nadat ek gebid het. Daarna het ek my aan die slaap gehuil…

Donderdag is die seer onder lokale verdowing uitgesny. Ek was vir 'n uur en vyf minute in die teater. Soos u op die foto kan sien, het my neus heeltemal genees! BAIE DANKIE aan my hemelse Vader vir Sy ingrype en bystand aan dr. Tiedt wat die operasie gedoen het. Dankie drr. Tiedt en Mouton vir u hulp en bystand. [Hattie Esterhuizen, 082 664 2619].

Indeks     Index