OOMBLIKKE VAN LEWENSUIWERING...
 

As 'n mens in die engtes van die lewe beland, is jy die mees ontvanklike leerling. U ken dit uit die praktyk van die lewe.
Toe jy vreesvervuld was vir die toets wat jy op skool moes skryf, het jy die werk wat jy moes leer, die gouste onder die knie gekry.
Toe jy as vrou bang was vir die kritiek wat jou baksel kon ontlok, het jy die resep wat jy getoets het die gouste laat slaag.
Toe jy as man 'n nuweling was in jou betrekking met die gevaar dat jy jou werk kon verloor, het jy jou opgelegde taak die gouste bemeester.
Ons ken almal daardie hol kol op die maag, die sweet wat in ons hande uitslaan, daardie bewerige lamheid in die bene, daardie speekselloosheid van die tong. Ons was almal al bang, vreesbevange, tot die dood toe benoud. En ek weet dat dit in daardie oomblikke was dat my ontvanklikheid die beste en my brein in die hoogste rat was.
Dit is ook baie predikante se ondervinding. Die man wat na geen raad wou luister nie, staan met ontvanklike gemoed voor jou as sy vrou hom wil verlaat. Die vrou wat in eiewysheid haar kop gevolg het, aanvaar elke stukkie advies as haar kinders in lewensverwildering begin verdwaal. Die mens wat in onafhanklikheid geleef het, drink trooswoorde op sy siekbed in soos sand water absorbeer. Daarom is die engtes van die lewe dikwels die bergpaadjies wat ons lei na die kruin vanwaar ons 'n uitsig oor die oop valleie en breë velde kan kry.
Beproewing is dikwels die leerskool waar ons onderrig word om die suksesvolle en voorspoedige dae met dankbaarheid te ontvang. Hartseer en smart is dikwels die bril wat ons in staat stel om weer die gawes van vreugde en blydskap te sien.
Dit is wat die Psalmdigter by ons wil tuisbring wanneer hy in Ps. 119:71 sê: "Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer." In sy verdrukking het hy geleer, vinniger en beter as wat hy onder normale omstandighede sou leer. In sy beproewing het hy genade ondervind, suiwerder en mooier as wat hy dit in enige ander situasie sou onder-vind. Deur sy trane heen het hy God raakgesien, duideliker en nader as wat hy Hom ooit gesien het toe hy van vreugde gelag het.
Hoe moeilik dit ook al vir ons as gelowiges is om lewensbeproewings so te ervaar, is dit inder-daad wat die Woord van God ons wil leer.
Beproewing IS vir ons wat glo, oomblikke van lewensuiwering.
Beproewing IS vir ons wat glo, geleentheid tot aktiewe belewenis van God se genade.
Beproewing IS vir ons wat glo, die kans wat ons kry om ons verleentheid vir God aan te bied as 'n geleentheid.
Beproewing skep vir my die moontlikheid om myself te verloën, afstand te doen van my kaart en transport, boedel oor te gee, afskeid te neem van my eie-ek, witvlag op te steek, en deur God geannekseer, beset en verower te word.
Eers ná die blindheid wat Paulus op die pad na Damaskus ervaar het, was hy in staat om te vra: "Here, wat wil U hê moet ek doen?" Eers nadat Petrus in die nag bitterlik geween het oor sy verloëning van Christus, was hy in staat om by die see van Tibérias te sê: "Here, U weet dat ek U liefhet." Eers nadat ons deur beproewing kaal gestroop is van alle valse gerustheid, selfver-sekerdheid, hoogheidswaan en opstandigheid, sal ons werklik in staat wees om die lote van die Wynstok, die bruid van die Bruidegom, die diensknegte van die Koning, die boustene van die Fondament, en die Christenvolgelinge van Christus te wees!
[Uit: Reëls van die Lewenspel, G J Hugo, Daan Retief Uitgewers, 1981].

Indeks     Index