DIE GODLOëNAAR
  Dit was nie slegs dat hyself nie geglo het dat daar 'n God is nie, maar dit was by hom 'n obsessie om ander ook te oortuig van hierdie standpunt. Hy het uit sy pad gegaan om ongeloof in die harte van ander te saai en om almal wat Christus bely, bespotlik te maak. Hy was die sekretaris en leier van 'n Ateïstiese Vereniging wat bestaan het uit jongmense wat op hulle fietse rondgery en ateïstiese (of soos hulle dit genoem het, rasionalistiese) literatuur versprei het. Ek was nog nie lank gered nie, en ek reken hy het gedink ek sou sy sienswyse maklik ten prooi val.
Ons het 'n afspraak by sy huis gemaak. Ek het hom 'n aangename, aantreklike en hoogs intelligente man gevind. Behalwe dat hy die werke van Blatchford, Ingersoll, Spinoza en ander op die punte van sy vingers geken het, was hy ook deeglik vertroud met die Duitse filosowe en kritici.
Hy was baie hoflik; 'n goeie redenaar, en hy het al die sogenaamde foute, teenstrydighede en weersprekings van die Bybel haarfyn geken. Ek was nie in staat om een uit tien van sy bewerings teen God en Sy Woord te weerlê nie. Hy het hom daarop toegelê om smalend te praat van die onbestendige lewens van sekere vooraanstaande Christene. Of die aantygings waar was of nie, weet ek nie, maar toe ek hom vra of hy enige fout kon vind met die Here Jesus, het hy erken: "Hy was 'n goeie man, 'n uitstaande idealis. Ek bewonder Hom, maar dat Hy my skuld tweeduisend jaar gelede gedra het - dis onmoontlik!"
Ek kon met hom niks verder kom nie. Intussen het sy suster die kamer binnegekom en hulle het hulle terdeë verlustig in my verleentheid. Derhalwe het ek maar net gesê: "Dit is vir my gans onmoontlik om al jou argumente te weerlê. Ek is maar 'n betreklik jong gelowige en jy 'n ervare redenaar. Dus sal ek maar net vir jou bid." Ek het by sy tafel neergekniel, hulle twee aan die Here opgedra en Hom gevra om hulle op Sy eie manier te oortuig van Sy reddende genade. Toe ek van my knieë opstaan, sien ek dat hulle hul lag nie kon bedwing nie. Hulle maak verskoning, maar sê dat hulle dit darem so snaaks vind dat ek by die tafel kniel, my oë toe-maak en met iemand praat wat nie daar is nie. Toe is ek daar weg.
Dit was op 'n Woensdag. Die Saterdag ontvang ek 'n boodskap waarin hy my uitnooi vir 'n wandeling en wat eindig met die woorde: "Ek het God gevind."
Wat 'n verandering het in daardie drie dae plaasgevind! Hy was glad nie meer die koue, harde kritikus nie, maar nederig soos 'n kind. Wat 'n onvergeetlike wandeling!
Nadat ek daar weg is, so vertel hy, het hy op die rusbank gaan lê en peins oor ons gesprek. Hy het voortgegaan: "Ek het by die grootste en gewigtigste oomblik van werklikheid in my lewe gekom: ek wóú wéét! Ek het opgekyk en gesê: "O God, as U daar is, openbaar Uself dan aan my. As Jesus U Seun is, sal ek Hom aanneem; as die Bybel U Woord is, sal ek dit aanvaar."
Daar en dan - hy weet self nie hoe nie - het hy bewus geword van God se Teenwoordigheid. Hy was seker, bo enige twyfel of argu-ment, dat Jesus die Seun van God is, die Saligmaker van die wêreld! Hy het die Bybel met nuwe oë begin lees; elke vers het tot sy siel gespreek, elke sin het gelewe!
Dit was 'n lieflike somersmiddag, en noudat hy die Here Jesus erken het as Skepper en Instand-houder van alle dinge, het hy by 'n wilde roosboom gaan stilstaan en met innige teerheid daarna gekyk: "Dit is mos Jesus wat dit gemaak het, is dit nie?" Ons het gepraat oor die trekvoëls, en hy het uitgeroep, "Dit is natuurlik die Here Jesus wat hulle oor die weëlose oseaan lei."
Hy het sy strydlustige Vereniging geskok met die nuus: "God het Sy Seun aan my geopenbaar soos Hy dit aan Saulus van Tarsus gedoen het." Die ommekeer in hulle leier se lewe was té opvallend om weggeredeneer te kon word. Die Vereniging het tot niet gegaan.
Wat was die rede vir die drastiese en onmiddellike verandering in daardie man se sienswyse, in sy hele lewe? Dit was bloot omdat hy gewillig was om die waarheid onvoorwaardelik te aanvaar en na te volg.
Die Here Jesus sê in Johannes 7:19. "As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy weet of dit uit God is en of Ek uit Myself spreek." Dieselfde geld ook vir u, leser. God wag om Homself aan u te openbaar as u Hom maar net wil vra. "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (Jeremia 29:13).
[Uit: Iets Beter As Goud deur WFP Burton].

Indeks     Index