'N BYBEL VIR SOEDAN | |
  |
Waar Kayleen daardie aand in Amerika in 'n erediens sit, ervaar sy 'n geweldige begeerte om te help - om iets te doen - om 'n verskil te maak vir hierdie mense waarvan die leraar hulle vertel. Maar wat kan 'n dertienjarige meisie doen? Wat kan sy gee wat 'n verskil kan maak? Kayleen voel magteloos teen die groeiende gewig in haar binneste. Sy is gewoond daaraan om saam met haar gesin vir die vervolgde Christene in ander lande te bid. Hulle het selfs vir een spesifieke jongman in Soedan gebid van wie hulle gehoor het, 'n seun met die naam James Jeda wat met vuur gemartel is omdat hy geweier het om 'n heidense geloof aan te neem nadat hulle sy ouers en broers en susters doodgemaak het. En tog, hoe meer die leraar praat, hoe meer wil Kayleen iets prakties doen. Maar wat? Die leraar praat verder oor die toestande van die gesinne in Soedan en verduidelik watter soort lewe hulle lei. Daar is mense in hulle laat 30's wat nog nooit 'n tyd beleef het waarin hulle land, en selfs hulle eie dorpies, nie deur die burgeroorlog (tussen Arabiese Moslems in die noorde en swart Christene in die suide) wat sedert die vroeë 1960's voortwoed, geteister is nie. Kinders moes skuilgate buitekant hul klaskamers grou waarin hulle kan wegkruip aangesien hulle skole, sowel as die hospitale en kerke, dikwels die teikens van bomaanvalle is. Alhoewel ongeveer die helfte van Soedan in die Sahara is, kan die temperatuur daar, veral in die Nubagebergtes waar die gevegte op hul ergste is, snags tot onder vriespunt daal, en as gevolg van die gebrek aan komberse lei die voortdurende blootstelling aan sulke toestande gewoonlik tot swak gesondheid en min slaap. Alhoewel die grond in die suide ideaal is vir boerdery, is daar steeds 'n skaarste aan kos, aangesien dit wat gekweek word dikwels deur weermagtroepe gekonfiskeer word of die landerye deur bomme vernietig word. Hongersnood is dus ook 'n enorme probleem. Maar soos altyd in tye van oorlog en vervolging is die Soedannese se grootste honger na God. Vanweë die oorlog het baie Sendinggroepe opgehou om mense na Soedan te stuur omdat dit so gevaarlik is, en is daar 'n groot tekort aan Bybels en ander Christelike lektuur. Skielik voel Kayleen 'n sprankie hoop in haar binneste opvlam. Sy kyk na die Bybel op haar skoot met al die aantekeninge wat sy daarin gemaak het sedert sy dit drie jaar gelede as Kersgeskenk gekry het. Sy druk dit teen haar bors vas terwyl die leraar verder praat. Toe sy hoor dat 'n familievriend saam met sendingwerkers na Soedan toe gaan, besluit sy om die Bybel saam met hom te stuur. "Gee dit asseblief vir iemand spesiaal," vra sy hom. Toe hierdie vriend met Kayleen se Bybel, tesame met baie ander voorrade wat die span saam-geneem het, in Soedan aankom, het sy hart na almal uitgegaan wat hy daar ontmoet het. Toe hulle besoek egter ten einde loop, het hy 'n besondere band met een jongman ervaar wat in die vuur gegooi is toe 'n stropersbende sy gesin uitgewis het. In hierdie stadium het hy by sy ouma gebly en skoolgegaan met die hoop om eendag 'n onderwyser te word. Die Sendingvriend het Kayleen se Bybel met 'n paar spesiale woorde van bemoediging aan hierdie jongman gegee. Die jongman se naam was James Jeda! Niemand kan sê hulle het niks om te gee as God dit op hulle hart lê om te help nie. Wat vir ons na 'n kleinigheid lyk, kan vir iemand anders ongelooflik baie beteken. God kyk nie na die hoeveelheid nie, maar na die bereidheid en gehoorsaamheid van ons harte. "Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, en Hy sê: 'Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offer-gawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe'" (Lukas 21:1-4). [Uit: Fanaties vir Jesus, Vol. 2, dc Talk en The Voice of the Martyrs, CUM, 2004]. |