LIEFDE EN AANRAKING | |
  |
Ons leef in 'n wêreld waar ons kontak het met mense sonder om fisies in hul teenwoordigheid te wees. Ons gesels per SMS, Whatsapp, Skype en e-pos. Ons voel asof ons goeie verhoudings handhaaf en vir 'n wyle kan sulke kommunikasie voldoende wees, maar dan ontdek ons 'n groot leemte: Daar is baie kommunikasie, maar geen kontak nie. Ek het vir jare lank een maal per week 'n bejaarde tannie besoek. Sy het my altyd vertel dat bejaarde mense velhonger raak - niemand raak meer aan hulle nie. Mense praat met hulle en doen gunsies vir hulle, maar daar is weinig aanraking. Aanraking is deel van liefde. Velkontak het 'n intense en genesende uitwerking op 'n mens se siel en alle mense smag daarna. Los vir 'n slaggie die tegnologie. Gaan sit by iemand, kyk hulle in die oë, luister na die emosie in hul woorde en raak aan hulle. Bedien hulle met liefde. 'n Vriend van my het eendag gesê hy wens Jesus het 'n vel gehad sodat hy aan Hom kon raak. Hy weet Jesus is lief vir hom, maar hy het behoefte om Jesus te ervaar - hy is velhonger vir Jesus! Die waarheid van hierdie stelling is dat ek en jy Jesus se "vel" is. Mense het meer as net bemoedigende woorde nodig - hulle het kontak nodig. Dit is interessant om te sien hoeveel keer Jesus aan mense geraak het wanneer Hy hulle bedien het. Boonop was dit dikwels mense aan wie niemand wou raak nie. "Toe steek Jesus Sy hand uit, raak hom aan en sê: 'Ek wil. Word gesond!' En sy melaatsheid was onmiddellik weg." (Matteus 8:3). "Toe raak Hy aan hulle oë en sê: 'Wat julle glo, sal gebeur.'" (Matteus 9:29). "En Hy het in Betsáida gekom, en hulle het 'n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak" (Markus 8:12). Vra vir Jesus om jou te wys hoe om mense se siele te bedien deur kontak met hulle te hê. Laat hulle Jesus se aanraking deur jou ervaar. Daar is niks wat mure vinniger afbreek as dit nie! [Uit: Vitamiene vir die Siel, Riekert & Pippa Botha, Struik Christelike Media] |