JOU BELANGRIKSTE AFSPRAAK | |
  |
Die Hemelse Bruidegom is nie daarop uit om 'n arbeider in diens te neem nie, maar om 'n bruid vir Homself te win. - A W Roffe. Sy draf elke oggend by hulle vakansiehuis verby - so vertel 'n vriendin my. Feitlik altyd dieselfde tyd, ongeveer elfuur in die oggend. Die pragtige bos swart hare eenvoudig agtertoe geborsel en agter in die nek saamgevat in 'n poniestert. Sweetpak en tekkies vorm 'n heerlike informele prentjie van iemand wat lekker vakansie hou. Sy maak gereeld dieselfde draai naby die huis waar hulle tuis is. Hardloop eers so 'n hele ent vlak langs die see op die nat sand, draf dan met 'n boog op na die teerpad en stap dan in by die plaaslike poskan-toor. 'n Minuut of wat later kom sy weer uit, met of sonder pos in haar hande. Soms draf sy dan direk terug na waar sy vandaan gekom het. Somtyds draf sy weer af na die see, na daar waar die rotse heerlike verskuilde sitplek bied. Daar sit sy soms baie lank, bene gekruis, op die wit seesand teen 'n bosagtige duin. Of sy gaan sit redelik vêr op die voorste punt van een van die rotse. Dit wil voorkom asof sy die rotse al goed deursoek het vir 'n gemaklike sitplek, want sy gaan feitlik gereeld na dieselfde plek. "Daar is iets by die poskantoor wat vir haar baie belangrik is. Sy hardloop elke dag daarheen," sê my vriendin vir haar man. Hy knik. "Daar's net een ding wat enige jongmeisie so gereeld sal laat pos uithaal, my vrou, en dis 'n kêrel daar iewers in die binneland!" 'n Paar dae later loop hulle haar raak by die winkelsentrum. "Ek sien jou elke oggend daar by ons huis verbyhardloop," sê my vrien-din vir haar. "Jy's lief om te draf." Die pragtige diepblou oë is vol lewenslus. "Ja, dit het vir my 'n lewenswyse geword om elke dag te draf. Ek dink 'n mens raak verslaaf daaraan." Sy gee so 'n borrelende laggie en stel haarself voor. "Ek is Sanette Pienaar, daar uit die Transvaal se wêreld. Dis vir my so lekker hier by die see. Dis asof ek altyd 'n nuwe, dieper dimensie in my verhouding met die Here beleef as ek by die kus is." Net daar is die hekkie sommer oop vir spontane gesprek want my vriendin en haar man is ook Christene. Sanette het haar die gewoonte aangeleer om so elke nou en dan by hulle in te loer tydens haar drawwery. So het hulle haar beter leer ken en sommer ook uit-gevind waaroor die gereelde besoeke aan die poskantoor gaan. Ja, sy het 'n kêrel, Piet Swart. Hy is ook 'n Christen en woon op haar tuisdorp. Die kere wanneer sy op die rotse gaan sit, is wanneer daar van Piet se briewe in die pos is. "Ek kan mos nie daarmee ophardloop na die woonstel waar my pa en ma en kleinboet is nie. Dis te klein daar en 'n mens kry nie maklik kans om alleen te wees nie." Met so 'n heerlike oop vrymoedigheid tuimel die woorde sommer uit.. "Ek is so lief vir hom, ek het tyd nodig om iewers alleen te gaan sit en my net te verlekker in alles wat hy skryf. Dit help darem vir die groot verlang!" Terwyl my vriendin gesels, gaan my gedagtes terug na die dae toe ek en Johan in Pretoria op universiteit was. Ons moes uit die aard van die saak lang univer-siteitsvakansies van mekaar geskei wees. Hy was 'n platsak student wat in Middelburg, Transvaal, gewoon het terwyl my ouerhuis in Bloemfontein was. Kuiertyd was maar min! Ek kan nog goed onthou hoe ek na hom verlang het. Jy weet mos self hoe groot 'n verlange kan wees - dat jy binnekant eintlik seerkry daarvan. Soggens so om en by nege-uur se kant het ek altyd langbeen op die stoepmuur aan die voorkant van ons huis gaan sit, met my rug gestut teen een van die stoep-pilare. My pa het soms met so 'n vonkel in sy oog vir my gevra: "Cecile my kind, wat maak jy nou hier?" My antwoord: "Nee wat, Paps, ek sit sommer," het hom nie geflous nie, want hy het goed geweet ek wag vir die posman. Ek kon die posbus lekker dophou vanaf my sitplek op die muur en wanneer die posman die briewe afgelewer het, kon ek nie vinnig genoeg in die paadjie afstap om te kyk of daar vir my 'n brief was nie. En as daar 'n brief was - veral so 'n lekker "vet" een - het my hart sommer so bollemakiesie geslaan en ek het ook gou 'n stil hoekie gesoek om die brief te lees. Ek het my liefdesbriewe (as ek reg onthou) dikwels eers sommer vinnig deurgelees om te kyk of hy my regtig nog liefhet en eers as ek daarvan seker was, het ek die brief weer van vooraf deeglik deurgelees. Stadig deurgelees en alles daarin in my hart gebêre. Veral daardie stukkies waar hy vir my geskryf het hoe lief hy vir my was, het ek keer op keer gelees totdat die brief plek-plek skoon vaal gevat was... Hoekom was daardie briewe met die bekende handskrif vir my so spesiaal? Hoekom was Sanette se briewe vir haar ook so besonders? Omdat ons die skrywer van die briewe leer ken en leer liefkry het. Anders sou die inhoud daarvan tog nie veel betekenis hê nie. Ek het nog steeds daardie briewe. Onder in my lessenaarlaai, vasgebind met 'n pienk lint. En as ek op 'n dag sommer net wil "lekkerkry", haal ek een van daardie briewe uit en dan weet ek weer hoe dit toenter-tyd gevoel het toe ek hulle ontvang het. Ek en jy wat aan die Here Jesus behoort, weet maar alte goed dat die Bybel Sy liefdesbrief aan ons uit die hemel is - 'n liefdesbrief wat slegs vir 'n mensekind waardevol is as jy die Skrywer daarvan reeds persoonlik leer ken het. Die tyd van hofmakery en briewe is maar net die voorspel in enige aardse verhouding tot die volheid van die liefde. Die jare wat daarop volg, jare van saamwoon, saam-lag, saamhuil, saamwerk, is die mees intieme en bindende ver-houding moontlik. In so 'n vol en gelukkige huwelikslewe word 'n egpaar so nou aan mekaar verbind dat hulle, na jare saam, met oortuiging sou kon sê: "Dis my ander helfte - hierdie lewens-maat van my." Daar is 'n een-wording wat plaasvind wat veel meer behels as blote fisieke kontak. Twee lewens word inmekaargeweef soos Henry Drummond dit met reg in sy essay, "The Changed Life", skryf. "When the contact and inter-course between two souls is very close and very frequent, recogni-sable bits of one soul begins to show the other's nature. This mysterious approximating of two souls … who has witnessed it? Who has not watched some old couple come down life's pilgri-mage hand in hand with such gentle trust and joy in one another that their very faces wear the selfsame look? These are not two souls - it is one composite soul. Half a century's mutual toil is reflected on them. They are changed into the same image." Net so, sê Paulus, is ons verhouding met die Here Jesus. Die essensie van hierdie eenwording met Hom is so kosbaar raakgevat in die woorde van 2 Korintiërs 3:18: "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." Die Amplified Bible stel dit so: "And all of us, as with unveiled face, [because we] continue to behold [in the Word of God] as in a mirror the glory of the Lord, are constantly being transfigured into His very own image in ever increasing splendour and from one degree of glory to another; [for this comes] from the Lord [Who is] the Spirit." En hoe gaan hierdie interaksie tussen die Hemelse Bruidegom en Sy bruid plaasvind? Wanneer ek en jy wat aan Hom behoort, tyd maak om elke dag van ons lewe - ongeag ons omstandighede - die belangrikste afspraak van ons dag na te kom: genoeg tyd met die Here Jesus in ons binne-kamer. Daar waar jy jouself in Sy Teenwoordigheid bevind en waar die Wind van die kosbare Heilige Gees oor jou kan waai, waar jy Sy Woord diep in jou wese mag inneem en Hyself jou transformeer na Sy Beeld! Daar is in die lewe geen, maar géén, afspraak belangriker en meer rigtinggewend en lewens-omkerend nie as tyd by die Here elke dag. Saam met FW Faber kan ons uitreik na die volheid van die Here. "With gentle swiftness lead me on, dear God, to seek Thy Face. And meanwhile in my narrow heart, oh make Thyself more space." LAAT DIT SO WEES, HERE, VIR ELKEEN VAN ONS! [Dis feeslekker! Cecile Burger, Human & Rousseau, 1997]. |