'N DANKBARE HART


  Vrydag 23 September was 'n werksdag soos enige ander. Ek het vroeg opgestaan en klaargemaak vir werk en niks makeer nie. So teen halfsewe voel ek skielik 'n geweldige pyn onder my linkerarmholte. Ek sê vir my vrou dat my arm lam en seer is. Sy wonder toe of dit my hart kon wees. Die pyn het versprei na my bors en rug. Ons skakel toe een van my vriende, Braam Kramer, en hy en sy vrou het my dadelik hospitaal toe geneem. By die Ongevalle-afdeling het hulle my onmiddellik begin behandel.

Dr. Altona het 'n EKG gedoen en sê toe dat ek 'n massiewe hartaanval gehad het. Hy het daarna 'n dokter in Vereeniging geskakel maar kon hom nie in die hande kry nie. Hy kon darem vir dr. Chris Conradie in Krugersdorp bereik. Dr. Conradie het gesê dat ek nie dadelik na Krugersdorp geneem kon word nie omdat my toestand so sleg was.

'n Ander vriend, Leon Brummelkamp, het ook by die hospitaal aangekom. Ek is intussen vanaf die Ongevalle-afdeling na die Hoësorgeenheid oorgeplaas. Leon het vir my gebid want ek het pers in my gesig geword en ek was "weg". Terwyl hy daar sit, hoor hy in sy gees die Here sê: "Ek sal hom dra; hy is Myne. Die duiwel sal hom nie steel nie." Hulle moes my hart twee keer skok om my by te kry. Daarna was ek meer stabiel. Ek is toe weer oorgeplaas na 'n ander lokaal, en die Saterdag het Netcare my met die ambulans na Krugersdorp geneem.

Dr. Conradie het my ingewag by Flora Kliniek in Roodepoort. Ek is dadelik na die teater geneem. Daar het hulle my aan 'n masjien gekoppel en op 'n skerm na die organe gekyk. Hulle sien toe dat al die are platgeval het. Hulle het 'n binnespalkie (Engels = 'stent') by my lies ingeplant en daarna het die are oopgegaan. Ek was so drie dae in die Hoësorgeenheid en daarna kon hulle my oorskuif na 'n gewone saal. Ek is die volgende Woensdag ontslaan. Wonderbaarlik was ek nét vyf dae in die hospitaal!

Ek is deur baie trauma en my vrou en gesin ook. Sy het eers op die laaste nippertjie gehoor waarheen ek oorgeplaas sou word en moes inderhaas verblyf soek. Daar was nie eintlik bekostigbare slaapplek beskikbaar nie, en sy en ons seun moes noodgedwonge by haar broer in Centurion oorslaap. My swaer kon haar darem saans bring om my te besoek.

Op 'n stadium het ek moedeloos geraak wanneer hulle vir die soveelste keer kom bloed trek het, maar het myself maar net aan die Here oorgegee. 'n Mens lê met tye lank alleen met die bloeddrukmasjien, hartmonitor, en baie ander pype terwyl jy 24 uur gemonitor word. Ek moet selfs nou nog pille gebruik en moes ook my dieet aanpas. Ek is afgeboek tot einde November en kan nou op herstel fokus. My hartspier het baie seergekry. Ek stap dus gereeld. Dit is maar 'n lang herstelpad, maar ek sien kans en daar is daagliks beterskap.

Ons is so dankbaar en waardeer almal se besondere en kosbare ondersteuning! Nou sien 'n mens hoeveel vriende jy werklik het! Toe ons huis toe ry en in Potchefstroom aankom, was ek só dankbaar vir hierdie wonderlike mooi plek! Veilig tuis!

Ek het net weer gedurende hierdie traumatiese tyd besef hoe kort die lewe werklik is! Dit kan in 'n oogwink kortgeknip word, en ek is só dankbaar dat die Here my 'n tweede kans gegee het. Nou kan ek vir mense vertel wat ek beleef het en wat die Here vir my gedoen het!

Ek wil vir almal sê: Kry julle lewens in orde, want dit kan in 'n ommesientjie verby wees! Ek is skaars vyftig, maar danksy die Here se genade en gelowiges se gebede is ek nog hier en gaan ek elke dag met 'n loflied op my lippe leef en die Here dien!

- Koos Smit 072 355 9636


Indeks     Index