'N GOEIE ADVERTENSIE
  Om jouself 'n Christen te noem, is een ding. Om 'n Christen genoem te word deur diegene wat jou lewe dophou, is 'n heel ander storie (Anoniem).

"Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het" (2 Petrus 1:10).

Om deur God geroep te wees, is wonderlik! So noem ons onsself Christene. Sonder God se genade sou ons dit nie kon wees nie.

Kan mense dit sien? Ervaar hulle in jou lewe dat die genade van God regtig 'n verskil gemaak het? Ervaar hulle wat nie glo nie, dat jy God se liefde en omgee uitstraal?

Dis moeilike vrae, nie waar nie? Om 'n Christen te wees, is nie iets wat ons net moet weet nie. Die toets of die genade van God ons lewe oorgeneem het, lê uiteindelik in die uitleef van daardie genade teenoor alle mense!

Here, ek bely voor U dat ek nie altyd 'n goeie advertensie vir U is nie. Vergewe my daarvoor en maak my deur U Gees 'n lewende advertensie van U liefde teenoor elke mens wat vandag my pad kruis. Amen.

[PITKOS vir die PAD, Annes Nel, CUM, 2004].


Indeks     Index