DIE SONDE VAN LOUHEID | |
  |
Louheid in 'n gelowige se lewe is sonde wat bely moet word om jou verhouding met God te herstel. Louheid is soos 'n geleidelike skemerte wat aan die einde van die dag oor die aarde toesak. Jy kom dit nie dadelik agter voordat dit naderhand heeltemal pikdonker is nie, want dit bekruip jou so stadigaan... Hoe lyk jou toewyding aan God? Is jy nog dieselfde mens as toe jy Jesus die eerste keer ontmoet het? Jy het só 'n groot ywer gehad in jou geestelike lewe! Jy wou berge versit! Jy sou alles in jou vermoë doen om ander te help om ook die nuwe lewe wat jy in Jesus ontdek het, te vind. Maar wat het intussen gebeur? En hóé het dit gebeur? Is jy nog so sterk aan die brand vir die Here of het daar 'n louheid in jou lewe ingesluip? In Openbaring 3:15-20 sê Jesus: "Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My." Hierdie woorde van Jesus is gerig tot die gemeente van Laodicéa; dus gelowiges. En dit geld ook nog vir vandag, vir gelowiges wat lou geword het! Hertoewyding aan God sal ons verhouding met Hom herstel. Dit beteken dat ons op ons knieë moet gaan en Hom moet smeek om vergifnis en herstel, sodat Hy opnuut die éérste plek in ons lewe kan inneem. In Openbaring 2:4 sê Jesus: "Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het." Indien Hy nie meer eerste in ons lewe is nie en indien daar ander dinge ingesluip het wat eerste prioriteit geniet, dan moet ons dit met belydenis voor God regstel en om vergifnis vra. Paulus skryf aangaande Demas: "Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessaloníka vertrek..." (2 Tim. 4:10). Moenie dat die dinge van hierdie wêreld die eerste plek in jou lewe inneem nie! Jakobus skryf só hieroor: "...weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" (Jak 4:4). En Johannes is ook baie duidelik hieroor: "Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld" (1 Joh. 2:15-16). Jesus sê verder aan Sy dissipels en dus ook aan elke gelowige: "Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie" (Matt. 5:13). En verder: "Julle is die lig van die wêreld" (vs. 14). Laat ons ons beywer om wáárlik sout en lig te wees sodat ons 'n lewe kan leef wat God kan behaag. WANT Hy het gesê: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Pet. 1:16). Lees ook Lev. 11:44. Laat ons dan in ons lewensreis heiligmaking nastreef en elke sonde met behulp van die Heilige Gees aflê. Dan sal daar nie kans wees vir louheid nie, maar sal dit vir ons moontlik wees om kragtig te leef en te getuig van Sy wonderlike liefde en kragtige werking in ons lewens! © Dr. J J Venter |