VERLIES
  Dit maak nie saak watter soort verlies jy ly nie, jy moet nie probeer om jou arms om die verlies te slaan nie. Laat toe dat God Sý arms om jou slaan. Hy ken en verstaan jou lyding en sal jou die vertroosting van Sy teenwoordigheid en die genesende salf van Sy liefde gee. As jy elke dag tree vir tree met God deur jou verlies gaan, sal hierdie pyn wat eindeloos lyk, in werklikheid mettertyd bedaar en sal jy weer vreugde ervaar!

Geen medalje is op pad as 'n verlies vinnig verwerk word nie; dus hoef jy nie die proses van genesing te probeer versnel nie. Gee jou aan elke stadium oor. Golwe van smart kom en gaan en keer terug wanneer jy dit die minste verwag. Selfs wanneer jy begin vergeet, sal iets jou skielik herinner aan dit wat jy verloor het en jy sal opnuut die pyn voel. Moenie daardie tye vrees nie. Gryp die Here in daardie tye aan.

Elke oomblik van die reis op hierdie pad sal 'n ander deel van genesing bring. Strek jou hand uit en neem jou Hemelse Vader se hand in jou tyd van verlies. Hy wíl jou vertroos en jou smart op Hóm neem. Hy wil saam met jou wandel en jou las dra. Soek Sy ferm arm elke oomblik en Hy sal jou nader na Hom trek.

Selfs al lyk dit of jou fontein van trane nooit opdroog nie, moet jy voortgaan om in die lig van God se teenwoordigheid te wandel en jy sal die ander kant van die rivier van smart bereik. Dit maak nie saak as jy nie voor jou kan sien nie. God sal nie net genoeg lig vir jou volgende tree verskaf nie. Hy sal jou ook in staat stel om dit te gee!

[Uit: Net genoeg lig vir my VOLGENDE TREE, Stormie Omartian, Struik Christelike Boeke Bpk., 1999].


Indeks     Index