WIE SE WIL? | |
  |
In Handelinge 27 word vertel van Paulus se reis na Rome en die skipbreuk op pad daarheen. Die storm op see onderstreep twee belangrike waarhede, naamlik die wil van God, en die vrye wil wat Hy aan die mens gegee het. Ons dink dikwels verkeerdelik dat hierdie twee noodwendig uiteenlopend en konflikterend is. Die matrose was só bang dat hulle van die skip wou afspring omdat hulle in die see, so het hulle gedink, 'n beter kans op oorlewing sou hé. Paulus waarsku egter: "As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie" (Hand. 27:31). Onthou, die engel het Paulus vroeër die versekering gegee dat almal op die skip gered sou word. Hier sé hy egter dat dié wat oorboord spring, nie gered sal word nie. Is hier sprake van 'n teenstrydigheid? Het die Here dan nie klaar gesé dat almal gered sou word nie? Ja, Hy hét, maar daar was 'n baie belangrike voorwaarde: almal moes op die skip bly! Om binne die beskerming van God te bly, moes hulle dus op die skip bly. Hier sien ons duidelik dat God se wil en ons wil onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Die Kerk praat al eeue lank hieroor. Aan die een kant is daar mense wat glo dat God Sy wil mét of sonder die mens se samewerking deurvoer. En aan die ander kant is daar diegene wat baie klem lé op die mens se reaksie op God se wil. Sommige gelowiges glo dat die twee nie versoenbaar is nie, omdat hulle mekaar uitkanselleer. Hulle redeneer met ander woorde só: as jy glo dat God alles vooraf beskik het, kan jy nie ook daarmee saam aanvaar dat die mens 'n vrye wil het nie. Jy moet dus òf glo in Sy soewereine wil, òf anders moet jy in die mens se vrye keuse glo - maar jy kan nie in albei glo nie. Ek is jammer, maar ek gaan beslis nie tussen die twee kies nie! Albei word duidelik in die Bybel vir ons verklaar, soos ons uit die verhaal van Paulus en die storm kan sien. Harry Ironside het by geleentheid gesé dat die mens se wil net nóg 'n speek in God se groot wiel is. Party mense ruk die kwessie van Goddelike beskikking heeltemal uit verband uit. Dit is gewoonlik daardie mense wat sé: "Ek is nou klaar gered, nou kan ek maar lewe net soos ek wil." Nee, dit werk nie so nie! Jy móét "op die skip" bly! Jy moet na aan Jesus lewe en in Hom bly. Hy het reeds Sy deel gedoen om jou te red - nou moet jy jóú deel doen deur binne Sý wil en Woord te lewe! [AAN DIE BRAND VIR GOD, Greg Laurie, VG Uitgewers, 1994]. |