NOU IS EK WAARLIK VRY | |
![]() |
|
  |
Hier volg my getuienis van God se grootheid in hierdie onstuimige wêreld waar boosheid, magsbeheptheid en rigtingloosheid seëvier. Ek is 61 jaar oud. Tot op 16-jarige ouderdom was ek onder my moeder se sorg. As 'n enkelouer het sy alles wat moontlik was vir ons gedoen. Haar opvoeding het op 'n Christelike grondslag berus. Ek trou op die jong ouderdom van 23 jaar en ons familie word gou aangevul met drie pragtige dogters. My vroutjie is 'n absolute "gem" en sorg vir 'n baie gelukkige huwelik! Vinnig verander my lewe egter drasties toe geld en plesier baie belangriker word as my "skatte" by die huis. Gholf en gholftoere, rugby en rugbytoere, kliëntepartytjies en drank, ontrouheid aan my dierbare vrou, en besoeke aan straatvrouens tydens toere en besigheidseminare was aan die orde van die dag. Voor ek besef, word ek 'n slaaf van Satan en dien ek hóm en vervreem my van alle goeie waardes - my enigste erfporsie van my moeder - wat deur haar met soveel opoffering aan my geleer is! Ek verander in 'n monster wat my familie begin afskeep en regverdig my nuwe lewe met argumente dat dit ter wille van 'n beter lewe vir hulle is! Onbewustelik raak ek 'n gekamoefleerde leuenaar en manipuleerder wat selfs regverdiging vind vir mishandeling. Dit vat nie lank nie voordat die pragtige vrou met wie ek getrou het omdat sy so spesiaal was, voor my staan as 'n brose, uitgeputte mensie met geen hoop meer nie. My aggressie loop ook oor na my kinders. Dit sit 'n sielkundige afbreekproses aan die rol en hulle vrees vir hulle pa het verreikende gevolge! Vir die daaropvolgende 30 jaar tot die ouderdom van 59, leef my familie in 'n hel met 'n man en pa wat 'n alkoholis word, ontrou is, sy familie verwaarloos en met tye net wegraak - soms tot 2 maande sonder dat hulle weet waar hy swerf. Soms het hulle géén geld om in hulle behoeftes te voorsien nie. Toe begin ek ook nog met kriminele aktiwiteite, onder andere om my met bloed-diamante te bemoei. Gedurende hierdie tydperk wil ek niks van God weet nie en het ek geen berou of skuldgevoelens oor wat ek doen nie. Op 'n stadium begin my vrou vir my 'n probleem raak en beplan ek om haar te elimineer. Gelukkig het my bose planne nie uitgewerk nie. My oudste dogter raak siek en voel verworpe. Sy bevind haarself in 'n donker gat en het net haar moeder wat haar help. Die tragiese van haar situasie is dat sy haar ouerhuis verlaat het en tot op hierdie stadium nog nie teruggekeer het huis toe nie. Gelukkig weet ek vandag dat God ons geskape het en dat Hy so lief is vir ons dat Hy ons nooit alleen sal los of verlaat nie. Op 27 April 2013 ontdek ek die ewige waarheid en wysheid! Na vele gekarring en teen my sin en wil kry 'n paar MIGHTY MEN-manne dit reg om my saam te sleep na MMC in Middelburg. Ons vertrek daardie Vrydagoggend na die byeenkoms van gelowiges. Ek het op my eie voor-waarde onder andere genoeg drank saamgeneem om dit 'n "jollie" naweek te maak. Op Graaff-Reinet het ek nóg "voorraad" aangekoop. Om 6 uur daardie aand is ek op pad na die verhoog toe - onder die invloed van drank! Die ver-hoog en almal rondom my het my ongemaklik laat voel en vrees het my beetgepak. Die lofprysing het toe begin. Joe Niemand se pragtige stem is versterk met 120 000 watt klankversterkers en toe... Met die woorde van sy liedjie, "Take the world and give me Jesus", steek ek vir die eerste keer in my lewe my hande onbeplan op en reik uit na die hemel... Toe kies Jesus my uit tussen 15 000 manne en deel Sy reddingsplan met my. In 'n oogwink het ek ervaar dat ek algeheel 'n ander mens geword het! Iets gróóts het met my gebeur! Ek was baie bewus daarvan... Koue sweet en trane, gemeng met 'n gevoel van vryheid en bonatuurlike vreugde, het my oorval! Woorde kan nooit beskryf wat op daardie tydstip met my gebeur het nie! Ek het op daardie oomblik nie besef dat God my genees het van drank, ontrouheid, leuens, haat, liefdeloosheid, vieslike vloektaal en trots, vrees, ongeregtigheid, hoogmoedigheid, brassery, nydigheid, jaloesie en geldgierigheid nie. Terug by die tent het ek al die drank op die grond uitgegooi en dadelik my vrou gebel. Sy het onophoudelik gehuil en aanmekaar oor die foon uitgeroep: "Hy is gered! Dankie my Here!" Die kinders is laat weet van daar-die bonatuurlike Damaskus-ervaring van hulle pa met Jesus Christus. Ek het 'n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad en is weergebore! My een dogter het dadelik vir my 'n SMS gestuur om te sê hoe bly sy is om haar pa terug te kry en dat sy my vergewe vir die jare wat sy met soveel hartseer moes spartel en in vrees moes leef. Die jongste dogter was op daardie oomblik nog skepties. Omdat daar baie geestelike en sielsherstelwerk moes plaasvind, het ek daardie Vrydagaand vir die eerste keer in jare voor God op my knieë gegaan en Hom geloof en geprys tot sonsopkoms! Ek het Hom gevra om my vrou voor te berei vir ons herontmoeting die Sondagaand. Ek moes met haar deel waar ek was en wat ek gedoen het aan haar en my kinders. Ek was verheug om 'n Hemelse Vader en God te kon hê!!! Daardie naweek van 27 tot 29 April 2013 was 'n bonatuurlike reis én groei-tydperk met Jesus! En dit was ongelooflik wonderlik om nie meer 'n dranklus te hê nie en dat dit nou vir my onmoontlik was om te vloek! My aspoestertjie-vrou het vir my verander in 'n ster en my liefde vir haar was werklik vir die eerste keer opreg. Later doop Jesus my met die Heilige Gees en kry ek bonatuur-like besoeke. Ek pak op 1 April 2014 'n "Celebration Journey" aan ter ere van Hom wat my gered het en stap 500 km met die houtkruis alleen na die Mighty Men Conference in Middelburg. Wat 'n belewenis! Op die oomblik lees ek die Woord van God vir die 4de keer deur op soek na die volle waarheid. Terwyl ek lees, ontmoet ek God in Sy Woord en word met wysheid, kennis en onderskeidingsver-moë geseën. - Vlooi Terblance, Plettenbergbaai, Sel: 076 981 1962. |