BELOFTES - GEEN INSPUITINGS OF PLEISTERS | |
![]() |
|
  |
"Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid ...Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig" (Psalm 19:8,9). "Koop hierdie motor!" sê die advertensie. "Let op die aero-dinamiese ontwerp; voel die ondersteuning wat die rugleuning van die wetenskaplik-ontwerpte bestuurdersitplek bied. Koop hierdie motor en kry 'n 100 000 km-waarborg, verhoogde status, 'n lugkussing vir beskerming, lae brandstofverbruik, 'n onoortreflike remstelsel..." As denkende mens bedink jy die voordele van die motor. Jy besluit: die aankoop van hierdie motor gaan fyner finansiële beplanning van my verg, maar ek het dit wat hierdie motor my bied, werklik nodig. Die moderne mens het nie net 'n motor met 'n lugkussing nodig nie. Hy het lewe, wysheid, blydskap, insig en sekuriteit nodig. Koop die motor - en jy bekom 'n 100 000 km-waarborg. Bestudeer, eet, absorbeer, lees, oordink en doen die Woord van God - en jy vind lewe, insig, wysheid, lewenskoers, blydskap, sekuriteit en onwankelbare vastigheid in 'n tollende en tuimelende wêreld. Natuurlik gaan dit fyner tydsbeplanning verg... maar het jy dit wat die Woord jou bied, nie dringend nodig nie? Die meeste mense loop met die gedagte dat die beloftes in die Woord van God vir krisistye bedoel is: Dat God se beloftes soos inspuitings werk. Wanneer jy regtig ernstig siek is, haas jy jou na die dokter en vra dat hy jou 'n inspuiting in plaas van stadigwerkende pille moet gee. Die inspuiting moet jou deur die krisis help. Dis wat God se beloftes is, dink ons. Stewige en onmisbare hupstootjies in krisistye. Niks is verder van die waarheid af nie! Die beloftes van God het met bestendige groei, met jou daaglikse lewenskwaliteit, met wysheid en insig, met jou gemoedstoestand te doen. Die beloftes van God is soos brood, soos jou stapelvoedsel: dié wat nalaat om elke dag daarvan te eet, sal altyd honger, onrustig, soekend, onbehaaglik en ongelukkig voel. Die beloftes in die Woord van God is nie soos pleisters wat haastig op wonde geplak word nie: die beloftes van God hou ons gees gesond, ons oë stralend, ons harte heel, ons hoop lewend, en ons gedagtes vars. Kan jy leef sonder dit wat die Woord jou kan gee? Natuurlik nie. Eet dan die Woord! Gebed: Here, ek het U Woord nie lief genoeg nie, daarom bestee ek nie naastenby genoeg tyd daaraan nie. Ek kan maar net pleit dat U my vertrapping van dit wat lewe, wysheid, blydskap en insig kan gee, sal vergewe. Maak my asseblief honger na U Woord! [Uit: Beloftes van Reën en Dou, Maretha Maartens, Aktua-pers,1996]. |