DIE REGTE AANSLUITINGSPUNT
 
Naby die dorpies Hankey en Patensie in die Oos-Kaap, nie te ver van Port Elizabeth af nie, lê die vrugbare Gamtoosrivier-vallei wat met reg soms die Spens van Suid-Afrika genoem word. Dit is in elk geval die Spens van Port Elizabeth. Nie baie ver hiervandaan nie, vind ons die indrukwekkende Kougadam. Hierdie dam wat aanvanklik as die Paul Sauerdam bekend was, is in 1970 voltooi en verskaf vars water aan sowat 200 plus boere in die vallei.

Vanuit die Kougadam is waterbesproeiing aangelê d.m.v. 'n kanaalsisteem. Elke boer kan teen 'n bepaalde bedrag per hektaar 'n aansluitingspunt vind by 'n kanaal naaste aan sy plaas om groente en vrugte te verbou. Voldoende voorsiening is dus gemaak vir water en elke boer kan suksesvol boer sonder enige watertekort en vrees vir droogtes. Al wat hy moet doen, is om die regte aansluitingspunt te vind...

So het God ook vir die mens voorsiening gemaak om Sy ewig-lewende water te ontvang. Hy het Sy Seun Jesus Christus gestuur om vir ons te kom sterf op die kruis van Golgota. Net voor Hy Sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy uitgeroep: "Dit is volbring!" (Grieks = tetelestai). Die werk is voltooi! Die werk waarvoor Hy gekom het, is afgehandel. Die Dam van Voorsiening vir ons saligheid is voltooi. Nou kan elke mens, elke bewoner van hierdie aarde, oor al die geslagte heen, net kom en 'n aansluitingspunt by Jesus vind om deel te kry aan ewige saligheid!

Die aansluitingspunt kry ons gratis! Dit word beskryf in Jesaja 55:1 - "O ALMAL wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!" Jesus sê ook: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo..." (Joh. 7:37-39).

Die aansluitingspunt vind ons dus deur geloof in Jesus Christus. Ons moet Hom in geloof aanneem (in ons harte innooi om Hom te ontvang). Johannes 1:12 verklaar: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo..." God het reeds die Bron van redding aan elke mens voorsien. Het u al u aansluitingspunt gevind? Maak vandag seker dat u Jesus Christus in u lewe innooi!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index