TERUGHOU OF UITGEE? | |
![]() |
|
  |
Die Italianer Luigi Tarso is een oggend dood in sy huis aangetref. Daar was byna geen kos of geriewe in die armoedige ou huisie nie, maar ingeryg op die solder was daar 246 kosbare viole wat die ou man deur die loop van sy lewe versamel het. Hy het al sy geld spandeer om die viole in die hande te kry, maar self soos 'n arm mens geleef. Vir baie jare het die viole in Luigi se armoedige huisie lê en stof vergaar. Die heel kosbaarste van al die viole, 'n Stradivarius, is na baie jare vir die eerste keer weer bespeel. In sy verbete poging om die viole vir homself te bewaar, het Luigi die wêreld vir jare beroof van die wonderskone musiek wat uit die viole gehaal kon word. Sommige Christene is net soos Luigi Tarso. Hulle versamel kennis oor Christus vir hulself, sorg dat hulle geestelik groei, maar hou hierdie kennis net vir hulself en gee dit nie deur aan die mense om hulle nie. God se Goeie Nuus mag nie opgegaar word soos Luigi se viole op die solder nie. Dit moet uitgedra word - aan alle nasies en volke, sodat almal die wonderlike musiek van Jesus se liefde vir hulle sal kan hoor! Net voor Jesus se hemelvaart, is Sy laaste woorde aan Sy dissipels (volgelinge): "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek aan julle beveel het. En kyk, Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld. Amen" (Matt. 28:19-20). As jy 'n volgeling van Jesus is, behoort jy elke dag die Goeie Nuus van Sy redding deur genade en jou kindskap en verhouding met Hom met ander te deel. Dit sal daardie persoon se lewe aanraak en jou eie lewe verryk. Dink byvoorbeeld aan die Joodse dogter wat deur die Arameërs uit Israel ontvoer is en toe die diensmeisie van Naäman se vrou geword het. Sy het nie oor haar God geswyg nie, en toe sy van haar heer se melaatsheid hoor, het die brandende vlam van haar geloof haar gedring om hom te versoek om by die profeet Elisa uit te kom. Die resultaat was opspraakwekkend! Naäman word genees en getuig: "Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe in Israel" (2 Konings 5:15). Hy sou voortaan die ware God aanbid. Om oor God se genade en goedheid te praat, behoort natuurlik oor ons lippe te vloei. Daar is 'n brief aan Beeld (5 Julie 2012) waarin Liezel Barclay van Centurion skryf dat Jan van Eersterust herstelwerk aan hulle huis doen en so tussendeur gee hy sommer raad oor die lewe ook. Volgens Jan kan enige mens vry wees om ver bo die wolke te sweef. Hy het aan Liezel oorgedra dat sy nie die leuens van Satan moet glo nie, maar in oorwinning kan lewe wanneer sy haar identeit in God in oënskou neem en Hom toelaat om Sy karakter in haar en haar man se lewe op te bou. Sy oordrag van die Goeie Nuus aan haar het haar met nuwe moed en dapperheid vir die lewe gevul! Kom ons tree vandag op soos die diensmeisie van Naäman en soos Jan van Eersterust en raak mense se lewens aan met die Goeie Nuus van Jesus Christus! -Oorgeneem |