INDIEN U VANDAG TOT STERWE KOM, WAT DAN?
 
Duisende mense in ons samelewing verkies om nie aan die ewigheid te dink, of waar hulle die ewigheid gaan deurbring nie...

God het egter vir die mens die volmaakte antwoord: Hy het Sy eniggebore Seun gestuur om vir ons te ly en te sterwe sodat óns kan lewe en die ewigheid saam met Hom in heerlikheid kan deurbring.

Dit klink egter na so 'n wye stelling. So omvattend. So asof ALMAL maar eendag hemel toe sal gaan. Oorweeg egter die volgende:

(1) Kan 'n mens seker wees van jou saligheid?

"Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God" (1 Johannes 5:13).

(2) Veronderstel u kom vannag tot sterwe, en u kom voor God te staan en Hy sou u vra: Hoekom moet Ek jou in my hemel toelaat? Wat sal u vir Hom sê?

Onthou, geen goeie werke kan u red nie. Daar is niks wat u self kan doen om die ewige lewe te beërwe nie. "Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en Sy liefde tot die mens verskyn het - nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na Sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur Sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe" (Titus 3:4-7).

"Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie" (Efésiërs 2:8-9).

WAT MOET EK DOEN?

(1) Erken dat u 'n sondaar is en dat NET Jesus u kan red.


"...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Romeine 3:23).

(2) Bekeer u, d.w.s. keer u af van u verkeerde weë.

"...maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom" (Lukas 13:5).

(3) Bely u sondes met berou en vra God om vergifnis.

"As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1 Joh. 1:9).

(4) Vra Jesus om in u hart in te kom.

"Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo" (Joh. 1:12).

"As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word" (Romeine 10:9,10,13).

(5) Aanvaar Sy vergifnis en leef voluit vir Hom!

(a) Lees u Bybel gereeld elke dag.
(b) Bid elke dag.
(c) Gaan gereeld Kerk toe.
(d) Vertel vir iemand anders wat Hy vir u gedoen het.


Indeks     Index