OM TE VOLHARD...
 
Bid jy reeds 'n geruime tyd vir 'n spesifieke deurbraak sonder dat jy dit beleef? Oordink dan gerus die volgende storie getiteld Die Klippie van Sukses.

Moeg en mismoedig het Rafael Solano in 1942 op 'n rots in die droë Venezolaanse rivierbed gaan sit. Vir maande het hy en twee ander mans daagliks in die rivier na spoeldiamante gesoek - sonder sukses!

Een van Rafael se vriende het nadergestaan om te vra of alles in orde was. Rafael het na die klippie in sy hand gekyk en geantwoord: "Ek is klaar. Dit help nie om langer te soek nie. Hierdie is seker die 999 999ste klippie wat ek optel en steeds is dit nie 'n diamant nie!"

Die ander twee mans het geskok na mekaar gekyk. Was dit die einde van hulle droom om dia-mante te ontdek? Een van die mans het geantwoord: "Nou maar goed, Rafael. Tel dan ten minste nog net één klippie op sodat ons kan sê ons het deur 'n miljoen klippe gekyk." Rafael het geknik, vorentoe gebuk en 'n klip uit die hoop klippe voor hom uitgehaal. Dit was so groot soos 'n hoender-eier. "Hier," het hy gesê en dit aan sy vriend oorhandig.

Daardie "miljoenste klippie" sou later as The Liberator, die grootste en suiwerste spoel-diamant wat nog ooit ontdek is, bekend staan. En 'n New Yorkse juwelier, Harry Winston, het dit van Rafael gekoop teen $200 000! Wat sou gebeur het as Rafael besluit het om nie daardie laaste klippie op te tel nie? Of wat sou met die basketbalspeler, Michael Jordon, gebeur het as hy op hoërskool moed opgegee het nadat hy uit sy skool se basket-balspan gelaat is? Of as dr. Seuss moed opgegee het nadat die 23ste uitgewer sy kinderboek afgekeur het - voordat die 24ste uitgewer hierdie boek aanvaar het en ses miljoen kopieë daarvan verkoop het?

God ken ons hartsbegeertes en Hy weet wat die beste plan vir ons lewens is. Al wat Hy van ons benodig, is deursettingsvermoë en vertroue op Hom. Lees weer die woorde in Jakobus 1:2 - 4: "My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekort-koming." Moenie moed opgee as jy al vir 'n geruime tyd vir 'n deurbraak bid nie. God is besig om agter die skerms te werk en alles in plek te stel sodat jy op die regte tyd jou deurbraak kan beleef. Hou moed. Wie weet, dalk is jou deurbraak net soos Rafael s'n, nog net een klippie weg!

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek weet dat U in beheer is van elke situasie. Help my om nie mismoedig te word as dit voel asof die antwoord op my gebed wegbly nie, maar om aan te hou glo! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. (Oorgeneem).


Indeks     Index