BOODSKAP AAN DIE LAND...



 
Een aand lê ek en dink aan al die leiers van die Bybel wat 'n volk moes lei in tye van oorlog. In die eerste plek het die volk tot God genader vir uitkoms deur te vas en te bid. Die Here het hulle verhoor en 'n leier geroep om die volk te lei. Daarna het die Here vir hulle 'n strategie gegee om uit te voer en hulle was almal gehoorsaam!

Daardie selfde nag droom ek dat ek in 'n digte mis staan. Die mis was so dig, dit was byna tasbaar! Die Here vra my: "Wat voel jy wanneer jy in so 'n digte mis staan? " Ek kry die gevoel van toekomsloosheid, rigtingloosheid, kan nie sien nie; dus ook geestelike blindheid met geen vooruitsig nie. Ek voel of ek wil tou opgooi. Ek is onseker en weet nie waarheen of wat om te doen nie. Weet nie herwaarts of derwaarts nie en voel verward!

Omdat daar nie Christelike leiers is wat in beheer van die land is nie, is dit net so goed soos 'n basuin "wat 'n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog? " (1 Kor.14:8).

Verder sê die Here: "Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar ...!" (Jeremia 4:5).

Die Here waarsku altyd voordat daar iets gaan gebeur sodat mense hulle sal bekeer. Die Here gee 'n duidelike opdrag sodat mense dit sal hoor, asook 'n duidelike klank (basuin) sodat niemand kan sê hulle het nie geweet of gehoor nie!

DIE HERE Sê:
"Vir te lank het die Kerk ook onwaarhede verkondig, mense onder die verkeerde indruk gebring. Ek wil 'n verbond met julle sluit. Ek wil julle Man wees. Weer soos in die dae in die Tuin van Eden wil Ek met julle wandel. Ek wil julle in 'n lieflike land bring - 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ja, julle is uit die Tuin a.g.v. rebellie. Rebellie om nie My Woord te aanvaar nie, deur te luister na leuens. Net soos die slang vir Adam en Eva met 'n halwe waarheid mislei het, moes hulle daarna die grond vol dorings en distels bewerk. Met die sweet van hulle aangesig moes hulle hul brood verdien, terwyl Ek julle Voorsiener wil wees, asook julle Geneesheer, Raadsman en Leidsman, maar julle het gekies om na die slang te luister. Keer terug, en luister na My Woord. Moenie die leuens langer glo nie. Kom na My toe! Ek wil julle by waters bring waar daar rus is. Vra My aangaande die toekomstige dinge en vertrou die werk van My hande aan My toe. "

Die Here sê verder: Dan sal "ELKE WAPEN WAT TEEN JOU GESMEE WORD, NIKS UITRIG NIE! " (Jes. 54:17a) "WANT JOU MAKER IS JOU MAN, HERE VAN DIE LEëRSKARE IS SY NAAM, EN DIE HEILIGE VAN ISRAEL IS JOU VERLOSSER " (Jes. 54:5). God wil 'n "ewige verbond met ons sluit " (Jes 55:3). Wat is dus die strategie wat die Here vir ons gee? "As jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie " (Jer. 4:1). (Jy hoef nie langer 'n onseker, twyfelagtige swerwer in vreemde lande oorsee te wees nie.) "I will rescue them out of all places where they have been scattered in the day of clouds and thick darkness." (Ezek. 34:12b Amplified Bible). Hierdie Skrifgedeeltes pas aan by my droom wat ek gehad het. Eseg. 34:13 in die Lewende Bybel lees as volg: "Ek sal hulle weer tussen die ander volke en uit die ander lande gaan haal en hulle terugbring na hulle eie grond toe... "

Die terugdraai na God sal die herstel van ons land beteken!

Dis nie net die land wat met dorings en distels besaai is nie, maar ook ons eie harte. Wat is in jou hart? Haat, bitterheid, onvergewensgesindheid of vrees? Maar God gee die oplossing: "Braak vir julle 'n braakland en saai nie onder die dorings nie. Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart ... dat my grimmigheid nie soos 'n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge" (Jer 4:3b-4).

Net soos vuur maklik brand waar daar onkruid en lang gras in die land is, so brand Sy grimmigheid in 'n onbesnede hart. Dit is jou eie verantwoordelikheid om jou hart te bewaak. Hoe word jou hart bewaak? Deur die sondige vlees af te lê deur besnydenis van die hart. "In wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het" (Kol. 2:11-12). (Kyk asb. op YouTube wat die Here sê oor wedergeboorte! - "She died, went to hell and heaven, then woke up at the morgue").

Dawid het vir Goliat 'n "onbesnede Filistyn " genoem. Hy het gesê: "Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare ... " (1 Sam. 17:45). Ons kan net na God gaan met 'n skoon gewete. Dis hoekom ons wedergebore moet wees, en die doop is dan 'n bede tot God om 'n skoon gewete, 'n innerlike vrede (1 Pet. 3:21).

As ons harte ons dan nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid voor God. Want die gebed van die regverdige verhoor Hy. Daarom sê die Here: "Die stryd behoort aan die Here, en Hy sal (hulle) in ons hand gee!" (1 Sam. 17:47b).

- Elsie Koeleman 084 500 3833.


Indeks     Index