SIEN DIE ONSIENLIKE!
 
Ek raak met tye baie melankolies. Ek staan op en dan wil ek sommer dadelik weer gaan lê! Daar is geen besondere rede daarvoor nie; ek sien net nie kans om my arms op te lig nie. Dinge wat my voorheen vreugde gegee het, wil ek nie eers aan dink of moeite mee doen nie. Alles voel so leeg...

Eintlik behoort ek net dankbaar te wees. Ek het 'n gesonde lyf, 'n warm bed en bad, kos op my tafel EN in my yskas. 'n Wonderlike man en pragtige kinders. Daarby het ek 'n werk, 'n motor en vriende. Wat meer kan 'n vrou vra? Wat meer kan ék vra?

Maar eintlik het ek oneindig meer! As ek net vaskyk in hierdie aardse dinge, is ek die bejammerenswaardigste van alle mense. Paulus sê mos: wanneer 'n mens dink dat net dít wat jy kan sien, jou vreugde moet gee, is jou perspektief totaal verkeerd en mis jy die dieper waarheid van die oorsprong van ware geluk.

Hierdie besef bring soveel verligting en laat my behaaglik sug van vrede. Dankie, Here! Dankie dat daar oneindig méér is en ek moet nie net na hierdie tydelike dinge kyk wanneer ek my seëninge tel nie. Nee. Ek moet dink aan U genade, U vreugde, U vrede. Aan U - Vader, Seun en Heilige Gees. Aan U vryspraak... My identiteit in U is ver groter en wonderliker as wat ek ooit in woorde sal kan sê! Ek sal voortaan aanhou dankbaar wees oor U genade en liefde - tot in ewigheid! Hoe kan ek ophou om U te loof oor elke wonderwerk uit U Hand? Nou sal ek my seëninge tel wanneer ek aan U voete sit. Ek sal rus teen U bors en besef: dis dít! My melankolie was net omdat ek U gemis het. U is net hier. Bý my. Net hier, maar U forseer nie ons verhouding nie. U gesels, maar ek hoor nie omdat ek nie luister nie. U skryf liefdesbriewe dwarsdeur my dag en ek sien dit nie eens raak nie, want ek kyk nie daarvoor nie. Ek jaag en stoom en blaas en val dan doodmoeg op my bed.

Dalk kyk U ook snags - soos ek - na my kinders. Met liefde, deernis en 'n intense verlange om hulle oë te sien oopgaan, hulle helder stemmetjies te hoor lag, en 'n stywe drukkie met 'n "ek is lief vir mamma'' te voel.

Daar het ek nou vier volle dae gemors met my melankolie! Nutteloos, met 'n verharde hart...

Nou kan ek weer ánders kyk na die dinge wat ek sien, want ek kyk anders na die dinge wat ek nie sien nie. Vergewe my, Here! Maak my hart sag, maak my ore en oë oop - fisies oop, maar veral ook elke geestelike sintuig van my. Beskerm die mense rondom my as ek melankolies raak. Ook vir my. En laat my weet by U is méér, oneindig meer!

1 Kor. 15:19 - "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense."

- Marise van Rheede van Oudtshoorn, 082 842 0338


Indeks     Index