GEEN ALTERNATIEF VIR DIE GESIN!! | |
  |
Dr. Fanie Bergh Skrywers oor die huwelik en gesin is oor die algemeen uitgesproke oor die stand van die gesin en gesinslewe. Dit kan soos volg opgesom word: Dii gesin is uitgedien en verkeer in 'n krisis. So byvoorbeeld sê Chapman (1997): "To say that the family in Western culture is in trouble, is an understatement. It is more realistic to say that the family has lost its way." Ons sal moontlik moet erken dat, alhoewel bg. stelling kras klink, dit waar is, omdat ons stukkende huwelike en gesinne in die samelewing op groot skaal teëkom. Vra 'n mens na die redes vir genoemde stand van sake, word legio redes aangevoer. Een rede is dat beweer word die gesin het funksieloos geword - baie van die gesinstake wat vroeër deur die gesin vervul is, is deur agente en instellings oorgeneem. Daar is dus deur die tye gepoog om die gesin as instelling te vervang en plaasvervangers is in die plek daarvan gestel. Diktature soos die Bolsjewiste asook kollektivistiese?? samelewingsvorme, soos die Israeli's se Kibboetse, het probeer om die gesin te vervang. Die vraag is dus: Kon die gesin as instellling wel vervang word? Die antwoord is - na al die eksperimente - 'n besliste nee! Die gesin vervul essensiële, gespesialiseerde en onvervangbare funksies in die mens se lewe. So speel die gesin 'n onvervangbare rol in die sosialiseringsproses van die mens. Wat die geestelike opvoeding betref, word die eerste vyf tot sewe jaar van 'n kind se lewe as die fondament van sy lewe beskryf. Net die gesin kan ten diepste die geestelike opvoeding in daardie jare behartig. Die onvervangbaarheid van die gesin, hoef ons egter nie te verbaas nie, want die gesin is God se instelling. Daarom is die gesin God se pad, God se wil vir die mens en sy voortbestaan. Dis juis via die huwelik en gesin dat daar onder Gods beskikking nuwe lewe kom en dat nuwe lewe begelei word tot volwassenheid. Maar verder, ook Jesus Christus het as Seun van God na die wêreld gekom, as deel van 'n gesin en so 'n persoonlike wyding daaraan verleen. Wat nou gemaak met die realiteit dat daar so baie stukkende huweliks- en gesinsverhoudinge is? Die Bybel vertel ons ook maar van stukkende gesinsverhoudinge, byvoorbeeld Kain slaan vir Abel dood, Amnon onteer sy halfsuster, ens. En tog bly die gesin die Skriftuurlike pad vir die mens. Gelowige huwelikspare en gesinne moet opnuut in die krag van Gods Gees só leef dat die huwelik en gesin weer 'n aantrekkingskrag word, soos 'n magneet wat trek, sodat jongmense die wêreld weer met ander en entoesiastiese oë na God se instellings sal laat kyk. Daar is geen alternatief nie! Kom ons maak die beste gebruik van ons huweliks- en gesinslewe tot Sy eer (Ef. 5:16). |