VOOR DIE SPIEËL | |
  |
Wanneer ons aan 'n spieël dink, kom daar onwillekeurig die beeld van 'n vrou by ons op wat voor die spieël sit en haar mooimaak (laat ons maar erken, die manne het die spieël ook nét so nodig!). Maar 'n vrou wat besorgd is oor haar uiterlike en tog netjies is, sal baie tyd spandeer voor die spieël. Elke haartjie sal in plek wees. Tot in die fynste besonderhede sal sy aan die kleinste dingetjie aandag gee. Alles moet perfek wees. Wat sou ons tog sonder 'n spieël gemaak het? In die Bybel lees ons ook van die spieël. In Jak. 1:22-23 lees ons: "En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het." Wat die spieël vir ons uiterlike doen, dit doen die Woord van God as spieël vir ons geestelike mens: Dit wys alles uit wat verkeerd is, elke klein vuil kolletjie of merkie, elke dingetjie wat nie in plek is nie. Maar dan sal selfs 'n spieël niks help as ons net so vlugtig na onsself daarin ky nie. Nee. Ons moet tyd neem om stil te staan en aandagtig te kyk om elke dingetjie te sien wat reggestel moet word. Vs. 25: "Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader…, gelukkig wees in wat hy doen." Die woorde "diep insien" beteken letterlik om oor te buk om beter te kan sien, of om in te tuur om te beter te kan sien. Ons moet tyd spandeer - aandagtig kyk. Die Woord sal vir ons alles wys wat verkeerd is. Dan kan ons ons lewens daarvolgens inrig en geseënd wees. Ons sal ook geestelik "netjiese" en "skoon kinders" van God wees. Maar ons moet "intuur" in die spieël. Ons moet genoeg tyd met die Woord deurbring. Ons sal dan al die vlekkies raaksien, al die onvolkomenhede, alles wat lelik is. En solank ons dit raaksien, sal ons iets daaraan kan en wil doen. Want wie wil lelik voorkom vir ander mense? Wie wil graag hê ander mense moet sê hoe 'n mislike geaardheid jy het, hoe onbeskof en selfsugtig jy is en watter ander lelike dinge ookal? Maar as ons onsself sien soos ons is, kan ons maar net op ons knieë gaan en die Vader vra om ons te help in hierdie "skoonmaakproses", waarin ons meer en meer aan sy Beeld gelykvormig kan word. Hy maak van ons "mooi" mense - mooi, soos Hy mooi is. Hoe meer ons met die Vader en sy Woord omgaan, hoe meer kan ander mense sien dat ons soos ons Vader lyk. Want ons is mos ook uit Hom gebore, as ons Jesus ten minste in ons lewe ingenooi het. Ons word nie "spieëlbewonderaars" (bewondaars van onsself in die spieël, om te sien hoe mooi ons is) nie, maar "spieëlkykers", met die oog op verbetering. Laat ons elke dag tyd spandeer voor die spieël van God en die Woord lees bestudeer met die oog daarop om dit elke dag toepaslik aan te wend vir ons lewe. |