GEBED IS 'N REDDINGSTOU
  Ek het vroeg in my kinderdae reeds geleer om op die Here te vertrou. My ma het ons ou gesinnetjie in daardie woeste jare bymekaargehou. Hoewel sy nie toe 'n Christen was nie, het sy geweet sy het al die hulp nodig wat sy maar kon kry om haar kinders groot te maak. Daarom het sy my en my broer elke Sondag kerk toe gestuur, en dis daar waar ek Jesus Christus leer ken en Hom in my lewe ingenooi het.
Namate ek geleer het om te bid en met die Here begin praat het, het ek van Sy liefde en omgee vir my bewus geraak. Hierdie klein dogtertjie het hoop en vertroosting by Jesus gevind te midde van die chaos van 'n gesin wat besig was om uit-mekaar te spat. Van toe af vertrou ek op Hom.
Die baie antwoorde op gebede in my lewe het net my vertroue in die krag en belangrikheid daarvan bevestig. Gebed is nie net ons weg na Goddelike beskerming nie; dis ook 'n persoonlike en intieme verhouding met God. Dis waarom dit vir my 'n eer is om betrokke te wees by die National Day of Prayer Task Force. Ek ag dit 'n voorreg dat ek 'n klein rolletjie kan speel om gelowiges op te roep tot gebed.
Jesus het die belangrikheid van intimiteit met God aan Sy dissipels gewys "...Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid" (Lukas 5:16).
"Jesus het... uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God" (Lukas 6:12). Hy het selfs vir Sy dissipels die gelykenis vertel van die weduwee wat volhard het in haar versoek om regshulp "...om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word" (Lukas 18:1).
Ek het al dikwels gewonder waar-om die Bybel so sterk klem op gebed plaas, veral aangesien Jesus dit in Sy bergpredikasie duidelik gestel het dat "julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra" (Matteus 6:8). Toe ek dit aan my man noem, was sy antwoord baie eenvoudig, dog diepsinnig: "Wel, God begeer tog 'n verhouding met ons elkeen, en daar is mos nie 'n verhouding in 'n afluistery nie!"
Die Here verlang inderdaad 'n persoonlike tweerigtinggesprek met my en ook met jou. Jy is Sy kind. Hy wil hê jy moet Hom opsoek, Hom liefhê en elke dag tyd saam met Hom deurbring. En wanneer jy dit doen, hoor Hy en reageer Hy. Jesus sê: "...As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon" (Matteus 6:6).
As Christene maar in hierdie waarheid sal volhard, sal ons ons eie lewe en die gang van die geskiedenis verander. Net so belangrik soos gebed vir ons as individue is, is dit immers vir 'n hele volk. Een van my gunsteling Bybeltekste is 2 Kronieke 7:14: "En as My volk oor wie My Naam uitgeroep is, berou toon en bid en na My wil vra en terugdraai van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel."
Wanneer ek oor hierdie teks nadink, skep ek nuwe moed. Oral oor die ganse Amerika ontstaan daar gebedsgroepe. Die volk se leiers vra openlik dat mense vir hulle moet bid. Trouens, vir die eerste keer in meer as 'n eeu het lede van albei Huise onlangs in die Amerikaanse hoofstad by-mekaargekom vir 'n tyd van gebed en versoening. Miskien is God besig om in hierdie onstuimige tyd in mense se harte te werk sodat hulle met 'n nuwe soort openheid na Hom sal soek in gebed.
- Verseker van Vrede in Onseker Tye, Shirley Dobson, CUM, 2002

Indeks     Index