18 000-STUK LEGKAART OM SENDING TE ONDERSTEUN
 

Die grootste legkaart in Suid-Afrika word in Bloemfontein gebou.
18 000! Dit is uit hoeveel stukke hierdie legkaart bestaan. Die legkaart is saamgestel uit vier verskillende ou wêreldkaarte. Enige persoon wat al ooit 'n legkaart gebou het, sal weet dat dit nie kinderspeletjies is nie. Die voltooide legkaart sal 'n oppervlak van 192 cm x 276 cm beslaan.
Die uitdaging om hierdie enorme legkaart te bou, is deur NGK Uitsig in Bloemfontein opgeneem, alles ten bate van Sending. Die Projek is begin na aanleiding van Matteus 28:19 - "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense My dissipels." Dit is dan ook die visie van NGK Uitsig en die Projek.
Elke legkaartstukkie word verkoop vir R10. Die geld wat hiermee ingesamel gaan word, sal aan twee gevestigde Sendingorganisasies geskenk word. Die Organisasies, Geopende Deure en Child Evangelism Fellowship sal baat vind by hierdie fondsinsameling. Hierdie skenkings sal die Organisasies in staat stel om die belangrike werk wat hulle alreeds verrig, nog beter te kan doen.
R16 000 van die R180 000 is alreeds ingesamel. Daar word dus nog R164 000 benodig. 'n Ambisieuse doelwit is gestel om die legkaart teen einde November 2006 voltooi te hê. Om dit 'n sukses te maak, word donasies benodig. Soos die legkaartstukkies verkoop word, word die legkaart gebou.
Daar word ook gesoek na persone wat as ambasadeurs sal optree vir die Projek in hulle onderskeie gemeentes en/of gemeenskappe en wat sal help met fondsinsameling.
Indien u betrokke wil raak by hierdie Projek, kan u vir Jozua Ehlers skakel by 083 461 9403 of ons Oos-Kaapkantoor by 041 360 9450.

Indeks     Index