IN U LIG SIEN ONS DIE LIG | |
  |
In Ps. 36:10 staan dit geskryf: "Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Lig en duisternis staan teenoor mekaar. God is lig, maar die Satan en sy werke is duisternis. Met die sondeval het die mens van God verwyderd geraak en in algehele duisternis verval. Oor Jesus se verskyning skryf Johannes: "In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. …Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld" (Joh. 1:4-9). Lewe bring dus lig. Lewe wat nét in Jesus te vinde is. Die mens in duisternis roep na God in die lig, en God wat Lig is roep die mens van die duisternis na Sy wonderbare lig. In Sy lig vind ons vervulling. In Sy lig vind ons lewe en totale verlossing en heling van die wonde wat ons toegedien is in die duisternis, want "Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes", maar Jesus "het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê" (Joh. 10:10). Hy het immers Self gesê: "Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê" (Joh. 8:12). In die lig vind ons voortdurende reiniging van sonde: "Maar as ons in die lig wandel (voortdurend) soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons (voortdurend) van alle sonde" (Joh. 1:7). Ons is genoodsaak om voortdurend 'n keuse te maak om in die lig te wandel. Terwyl ons in die lig is, word ons slegs weerkaatsers van Sy lig - nie die lig self nie. Johannes skryf van Johannes die Doper: "Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig" (Joh. 1:6-8). God se lig moet deur ons uitgestraal word. Jesus sê: "Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie…" (Matt. 5:14). En verder: "En niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binne-kom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie" (Lukas 11:33-35). In Sy lig sien ons die lig. Hoe méér ons in die lig wandel, hoe méér lig ontvang ons. In Joh. 11:9-10 verklaar Jesus: "Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie." In Sy lig bewaar Hy ons van die Bose. Hy help ons om van die kwaad af te sien. Kom, laat ons 'n positiewe keuse maak om voortdurend in die lig te wandel en ware weerkaatsers van Sy lig te wees! |