PETRUS SE KRUISIGING EN BEGRAFNIS | |
  |
Daar bestaan ‘n legende dat Petrus, nadat sy vriende hom gewaarsku het, uit Rome begin vlug het. By die stadspoort kry hy ‘n visioen van Jesus wat Rome binnekom. Hy vra toe vir Jesus: Quo vadis, Domine? (Waar gaan U heen, Here?), waarop Jesus antwoord dat Hy Rome binnekom om weer eens gekruisig te word. Hierop sou Petrus besluit het om nie meer te vlug nie, maar om Jesus deur sy eie dood te verheerlik. Keiser Nero was in hierdie tyd nie in Rome nie; hy het van September 66 n.C. tot Maart 68 n.C. in Griekeland gereis. Petrus is toe op bevel van die prefek Agrippa gearresteer en gekruisig. Petrus het gevra om onderstebo gekruisig te word, uit respek vir die wyse waarop Jesus gekruisig is. Petrus se begrafnis het volgens oorlewering onder leiding van die Romeinse senator Marcellus, en lidmate van die gemeente van Rome plaasgevind. Petrus se graf was reeds teen 100 n.C. aan die Christene as monument bekend. In Keiser Konstantyn se tyd is ‘n kerk oor die graf gebou. Hierdie gebou is later deur die huidige St. Peterskerk in Rome vervang. - Die Bybel A-Z, CUM, 2003 |