ONTMOET DS. DAWIE DE WET | |
  |
![]() Ds. Dawie en Naomi de Wet Ds. Dawie de Wet is reeds sedert 1989 'n voltydse sendeling. Hy het in daardie jaar die gerief van sy pastorie as gemeenteleraar prysgegee en hom as sendeling gaan vestig op 'n Franssprekende eiland waar die Evangelie nie vrylik verkondig kon word nie. Om die werk onder die inheemse bevolking te kon doen, moes hy Frans leer praat. Hy het homself ook as motorwerktuigkundige gekwalifiseer om oor die weg te kom in die moeilike omstandighede. Ds. Dawie is getroud met Naomi. Die egpaar en hul kinders praat vandag vlot Frans. Hoewel die egpaar se kinders in die Franssprekende sendingveld opgegroei het, is hul reeds almal uit die huis en onafhanklik van hul ouers. Vandag is ds. Dawie de Wet voltyds by Veritas Bible College ingeskakel. Sy kundigheid word nou gebruik om inheemse kerkleiers uit verskeie kerkverbande in Franssprekende Afrika op te lei. Vir hierdie doel gebruik hy die Veritas College Bybelskoolmateriaal. In die Demokratiese Republiek van die Kongo is daar tans 'n geweldige aanvraag vir sy hulp. Dié land het 'n inwonertal van ongeveer 55 miljoen mense. Meer as 400 tale word in die land gebesig! Baie van die taalgroepe het nog nie 'n Bybel in hul eie taal nie. Hoewel daar heelwat gevestigde kerke in die land bestaan, is daar 'n ernstige behoefte aan opgeleide gemeente-leiers en Bybelvertalings (Bybels) in die inheemse tale. Dit is hier waar sy hulp ingespan word. Goeie nuus is dat ds. Dawie 'n oop deur tot baie kerkverbande in die DRK het. Die inheemse kerke nooi ds. Dawie reeds geruime tyd uit om hul kerkleiers toe te rus. Hy het ook die voorreg gehad om die land se weermagkapelane op te lei deur middel van die Veritas kursusmateriaal. Hy het selfs beleef dat een inheemse kerkverband onlangs hul hele sinodesitting se normale program gestaak het en hom die geleentheid gegee het om al die leraars vir die res van die sinode op te lei! Die Veritas Opleidingsprogram word reeds in meer as 50 gemeentes in die Kongo aangebied. Die stroom geestelike leiers wat opgelei word, word ook jaarliks groter! Die nood is egter oorweldigend groot. In baie plattelandse gebiede was daar nog nooit 'n sendeling of evangelis wat die Evangelie kon oordra nie. Ds. Dawie ervaar dat mense in die DRK soms vyf dae per fiets reis om by die opleidings-klinieke wat hy aanbied, uit te kom. Hiermee saam help ds. Dawie ook vir "Woord vir die Wêreld" om plaaslike Christene in die DRK op te lei om die Bybel vir hul eie mense in hulle eie taal te vertaal. Daar is min opgeleide inheemse kerkleiers wat die Evangelie effek-tief kan uitdra. Die uitdaging is dus groot. Dit is immers beter om die inheemse leiers te bemagtig om die werk in hul eie taal te doen, as om alleen die taak aan te pak. Een van sy drome is om 'n tweedehandse voertuig in die DRK aan te koop sodat die werk verder uitgebrei kan word. Ons wil graag vandag vir u uitnooi om by ds. Dawie se werk betrokke te raak. Ons soek gelowiges en gemeentes wat sy werk wil ondersteun deur gebed. Om in te skryf vir sy nuusbrief en 'n volledige inligtingsbrosjure te ontvang, moet u asseblief vir ons 'n nota stuur met die woorde: "Stuur asb. ds. Dawie de Wet se nuusbrief aan my"; gevolg deur u adres (as u oor 'n e-pos adres beskik, is dit nog beter). Stuur u inligting na sending@ ngkmiederpark.co.za, faks na 018 294 3900, of na SMS 082 966 3704. |