AS IEMAND EERSTE WIL WEES... | |
  |
As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees" (Markus 9:35). Nederigheid is nie net 'n karaktereienskap nie - dit is veel meer! Onthou twee dinge: 1) Alhoewel dit 'n eienskap van 'n Christen behoort te wees, word nederigheid selde verstaan of beny. Vandag is daar heelwat leierskapmodelle wat dit vreemd vind as die persoon aan stuur van sake dikwels nederig is. Om neer te buig en iemand anders te help of om jou swakhede te erken, word beskou as dinge wat jou kwesbaar en weerloos maak. Te veel leiers beskou hulself as mense wat gedien moet word, behalwe vir kort periodes wanneer dit voordelig kan wees wanneer ander sien dat hulle diensbaar is - maar darem nie vir te lank nie! Sulke mense is verder versigtig om hulself nie te maklik te assosieer met diegene wat moontlik laer as hulle op die "suksesleer" is nie, want dit mag dalk net skade aan hul posisie berokken! Hulle is bang dat hulle straks die respek kan verloor van diegene onder hulle - asook bo hulle - as hulle te veel verantwoordelikheid vir 'n swak besluit aanvaar. Hierdie houding mag egter nooit die geval wees wanneer jy 'n volgeling van Christus is nie. Vir Christene is nederigheid nie net 'n geloofseienskap nie - dit is 'n lewenswyse! 2) Ons waardeer nederigheid in ander, maar wil dit selde self hê. Die prys is dalk te hoog om te betaal. Nederigheid is nie iets wat ons vooruitgang in die lewe kan gee nie, en as ons eerlik daaroor nadink, hou ons van nederige mense rondom ons, omdat hulle ons nie bedreig nie. Nederige mense is veilige mense met 'n vreemde eienskap wat hulle op die kantlyn laat staan, terwyl ons spartel om die hoogste sport van die leer te bereik. Ons kan dit bekostig om nederig te wees nadat ons tot koning gekroon is. Selfs Christus se dissipels het hulle daaraan skuldig gemaak: "Hulle het ... met mekaar gepraat oor wie die grootste is. En toe Hy gaan sit het, ... sê (Hy) vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy ... almal se dienaar wees," (Mark. 9:34 35). Wil jy meer soos Christus wees? WEES DAN NEDERIG! Dr. Paul Brand was een van die 20ste eeu se mees gesiene geneeshere, te danke aan die werk wat hy onder melaatses gedoen het. Sy liefde vir Indië se "minste van die minstes", het hom gelei om pioniersnykundige tegnieke te ontdek wat vandag steeds deur dokters gebruik word wanneer hulle ortopediese rekonstruksies doen. Hy was 'n briljante dokter, mediese opvoeder, skrywer, spreker, en 'n kampvegter vir verdruktes. Philip Yancey skryf: "Toe ek dr. Brand ontmoet het, het ek besef dat ek nederigheid verkeerd gedefinieer het as 'n negatiewe selfbeeld. Paul Brand het beslis geweet wat sy gawes is. Hy was regdeur sy akademiese loopbaan eerste in sy klas, en het heelwat toekenningsbankette bygewoon wat ter ere van sy prestasies gehou is. Tog het hy sy gawes erken as slegs 'gawes' van 'n liefdevolle Skepper, en hulle gebruik in Christelike diensbaarheid. "Toe ek hom die eerste keer ontmoet het, was Brand nog besig om aan te pas by die lewe in die Verenigde State. Daaglikse luukshede het hom ontsenu en hy het gesmag na 'n eenvoudige lewe na aan die aarde. Hy het presidente, konings en bekendes persoonlik geken; tog het hy selde van hulle gepraat. Hy het openlik gepraat oor die kere wat hy gefaal het en altyd die eer vir sy sukses aan die Here en sy vennote gegee. "Wat my die meeste beïndruk het, was dat die wysste en briljantste man wat ek geken het, so 'n groot deel van sy lewe gewy het aan van die laagste mense op aarde." Mense wat werklik nederig is, sal altyd eerste omsien na diegene rondom hulle. Hulle is ook baie seker van hulself. Hulle is bewus van die eienskappe wat hulle suksesvol maak in dit wat hulle doen. En daardie sekerheid - daardie eerlike, gesonde selfondersoek - veroorsaak 'n nederige houding. 'n Houding wat weer uitloop op aksies wat raakgesien word, aksies wat 'n verskil maak en 'n lewenswyse wat ons sal wil navolg. [Uit: "Woord vir Vandag", 'n Publikasie van Radiokansel, Sept. 2007]. |