GELOWIGES VAT HANDE OOR KERKGRENSE HEEN!
 
Twee jaar gelede het Francois Vosloo (OM) in Miederpark as deel van verskeie sprekers tydens 'n Sending-konferensie opgetree. Dit was 'n geseënde Konferensie wat gekenmerk was deur gebedstoewyding. Voor elke sessie het elke spreker hom in gebed afgesonder. Na so 'n gebedsessie het Francois na my gestap en gesê dat hy 'n gesig gesien het. Hy het Jesus in die middelpaadjie van die kerk sien afstap, in die vorm van 'n helder wit lig, tot voor die kansel, waar Hy die predikers bemoedig. Francois het aan my genoem dat hy dink dat die Here vanuit daardie Konferensie iets spesiaal gaan begin. Ons kon God se teenwoordigheid ervaar en het geweet dat Hy besig was om te werk. Min het ek geweet hoe vinnig hierdie gesig waar sou word. Twee weke na daardie Konferensie het die Gees Self mense op verskillende maniere en op verskillende plekke op leiersvlak byeengebring en oral deure oopgemaak vir sendingmobilisering.
'n Sendeling (MC Coetzee van World Outreach) het begin om saam met die sendingspan hande te vat en deeltyds sy gewig ingegooi by hierdie visie. Die Here het beskik dat ons 'n voertuig kon kry om die werk te begin, asook die ondersteuning van 'n gevestigde sendingkantoor. Kort hierna is 'n beweging bekend as MMM (Missionêre Mobiliseringsmomentum) gebore. (Dit is nie 'n nuwe organisasie nie, maars slegs 'n mobiliseringsbeweging vanuit die Kerk wat bestaande kundigheid benut). Verskeie pastore en predikante in Potchefstroom het intussen meegewerk om hierdie beweging te vestig. Oor kerk-grense het ons geleer om prakties saam te werk. Nog kerkleiers het hul kerkgeboue gratis aangebied en op spontane wyse meegewerk. Die wonderlike samewerking tussen gemeentes uit die Gereformeerde, Hervormde, AGS, NG Kerk en onafhanklike kerke soos Duet het spontaan ontwikkel, terwyl nog ander gemeentes hul kerkgeboue beskikbaar gestel het. Hierdie gemeentes het saam beplan, fondse gegee en sy aan sy gewerk om die eerste Konferensie moontlik te maak. Net hierdie getuienis van samewerking oor kerk-grense heen, is op sigself 'n wonderlike verhaal!
Dit het gelei tot die vestiging van 'n vennootskap (MMM), wat vanjaar op die naweek van 12-13 September die eerste MMM Sendingkonferensie in Potchefstroom aangebied het. Hierdie Sending-mobiliseringskonferensie is deur ongeveer 250 gaste van oor die hele land (sommige van sover as Kaapstad) bygewoon. Tien sprekers het opgetree en dertig uitstallers het hul kundigheid gedeel. Dit was 'n wonderlike geleentheid vir netwerk, saambid, kennis uitruil en vriendskapsbande smee.
Ons harte is veral vol vreugde omdat die Heilige Gees sedertdien op kragtige wyse werk. Die doel van die Konferensie was om gemeentes te help om meer bewus te word van hul getuienistaak en hulle bekend te stel aan die missionêre karakter en leefstyl wat Christelike gemeentes en gemeentelede behoort te hê. Daarmee saam wou ons ook aan Konferensiegangers hulpbronne bekendstel wat hul kan ondersteun om hierdie nuwe visie te ontwikkel. So kort na die Konferensie blyk dit dat daar reeds groot seën voortvloei uit hierdie geleent-heid soos wat gemeenteleiers op spontane wyse afsprake met kundige leiers gemaak het om hul gemeenteleiers te kom bemagtig. Leiers uit Ikageng en ook studente van NWU het hierdie Konferensie bygewoon. Daar is ook verskeie gemeentes wat aangebied het om hande te vat en konferensies soortgelyk aan MMM, na hul streke te neem! Daar is ook gelowiges wat na vore kom en aanmeld om voltyds sendingwerk te doen! Ons staan verstom oor die werk wat God besig is om te doen! Hoe Hy mense gewillig maak en oprig om eienaarskap te neem en deel te word van 'n nuwe sendingontwaking. Alle eer aan Hom!
(Getuienis deur ds. Willem Louw).

Indeks     Index