KAN KLIPPE LIEG? | |
  |
![]() So 50 jaar gelede het ons jongklomp gaan uitkamp op 'n Sendingstasie. Ons sou 'n week daar werk en elke dag was louter vreugde. Die dames het in die Sending-hospitaal gaan help om verbande te verpak, medisyne uit te deel en allerhande take te verrig wat die dagtaak van die verpleegsters vergemaklik het. Ons manne het op die perseel 'n huis vir die sendeling gebou. Op 'n dag het drie manne verdwyn. Omdat ons egter nie almal saam spesifieke take gehad het om te doen nie, het ons eers teen die middag agtergekom dat hulle weg was toe hulle met toue en blikke van die berg se kant af aangestap gekom het. Toe ons vra waar hulle vandaan kom, het hulle bloot na die berg gewys. Daar teen 'n hoë krans het gestaan, "Modimo o a lerato." God is liefde. Sondag, toe ons take afgehandel was en ons reg was om die Maandag terug te gaan huis toe, woon ons die diens in die Sendingkerkie by. Die sendeling preek ernstig. Hy sê dat hy al baie lank vir sy gemeentelede sê dis hulle plig om vir ongelowige mense van die liefde van God te vertel, anders sal die klippe dit uitroep. Nou is sy profetiese woorde bewaarheid. Die klippe daar teen die berg roep dit uit! Hierdie insident het my gedagtes teruggedwing na 'n skoolmaat. Rof in die ergste sin. Hy wou nooit luister nie en is na standerd ses uit die skool toe hy sestien geword het. Hy het by 'n bouer as leerling-messelaar gaan werk. Omtrent 'n jaar vantevore het sy pa selfmoord gepleeg omdat sy ma met ander mans rondgeloop het. Hierdie maat het omtrent al sy geld uitgedrink - soos sy pa. Op 'n Saterdagaand het die klomp gaan dans by 'n plek waar daar gereeld maar moleste was. Teen nege-uur die aand het 'n bakleiery uitgebreek en die polisie is ontbied. 'n Aantal is gearresteer, maar het 'n afkoopboete betaal en is vrygelaat. In die aanklag-kantoor het hulle gesweer hulle gaan die geveg buite die dorp voortsit en is toe met hulle dronk lywe in twee motors daar weg. Net buite die dorp het die maat, wat nie 'n lisensie gehad het nie maar die motor bestuur het, onder 'n vragmotor ingejaag. Al vier die insittendes is daardie nag die ewigheid in. Op sy grafsteen staan daar 'n pragtige grafskrif met 'n Bybelversie daarby en ook "Veilig in Jesus arms". Op sy pa se grafsteen 'n entjie daarvandaan staan "my geliefde egge-noot wat so tragies van my weggeneem is". Kan klippe lieg? Ja, hulle kan, maar hulle kan ook vertel van die liefde van God. Dit hang maar net af van wie die skryfwerk doen. Die vraag is nou wat op elkeen van ons se harte geskrywe staan. Het ons God werklik lief? Wat op ons harte gegrif is, word deur die Almagtige beoordeel en Hy kan nie mislei word nie! [Ingestuur deur 'n leser uit Potchefstrooom.] |