KOM SWEM IN GOD SE STROOM | |
  |
Waar ‘n stroom sterk vloei, is daar geen opdrifsels en brak poele nie. Geestelike opdrifsels is ook nie Jesus se bedoeling vir Sy Bruid nie, maar ‘n diep, helder, sterk-vloeiende stroom van Sy Gees. Elkeen van ons moet egter ons vlees kruisig en in die helder stroom van God se Gees kom. Die opdrifsels in ons lewe is soos kaf wat van die koring geskei moet word. Kaf kan nie voed nie, en opdrifsels kan nie ons dors les nie. Slegs die lewende stroom van God se Gees kan ons dors les. Sterk strome vloei see toe. So is daar ‘n bepaalde doel en vooruit-gang in die stroom van God: ‘n eindbestemming. Slegs diegene wat in God se stroom bly ten spyte van ont-beringe, kom by die eindpunt uit. Dit is egter ‘n risiko vir die "vlees". want die Gees van God lei die "vlees" van die mens na die dood toe. Die "vlees" kan nie oorleef in die diep stroom nie. Die "ek" móét sterf! "Ek" spartel egter om te oorleef en hou my by die brak poeletjies en opdrifsels wat vir niemand iets beteken nie... Opdrifsels stagneer en maak die mens tevrede met die poeletjies. Dit was ook eens mooi helder en skoon water, maar onreinheid het stagnasie veroorsaak. Stilstaande water het bilharzia tot gevolg, ongeskik vir menslike gebruik. Ook broei paddas en insekte in poeletjies. Die kind van God mag nie tevrede wees met die poele-tjies waar gevare en kieme skuil nie. Verlang na die helder, skoon water van die Gees! Daar is genoeg vir elkeen wat die moeite wil doen om na die diep water te gaan. Moenie uit pas wees met die Heilige Gees nie - liewer uit pas met die opdrifsels en brak poele van hierdie wêreld! Die twee is onversoenbaar! Die Bruid moet in die helder stroom bly om haar kleed skoon te hou, want die opdrifsels besoedel haar kleed. In die sterk stroom mag daar wel ook rotse en draaikolke wees, maar met God se leiding en beskerming sal Hy ons by ons eindbestemming uitbring. Ons moet - soos wat ‘n kano-vaarder sy reddingsbaadjie aantrek - ook ons "reddingsbaadjie", die wapenrusting van God, aanhê. So sal ons gepantser wees teen die aanslae van die vyand. Laat ons die poeletjies en opdrifsels verlaat en na die diep water toe gaan! Slegs dán sal ons ‘n vervulde lewe in God hê en met ‘n rein en jubelende hart by ons eindbestemming aankom... © Japie Venter |