DEUR SKADE EN SKANDE | |
  |
![]() Hendrik du Preez 018 294 5587 / 072 360 7531 "Gaan gee die pond* vir Jimmy Strydom!" Die stem breek duidelik deur newels van slaap en alkohol, en ek kyk deur ’n waas in die kamer rond. Wie op aarde…? Alles in my ruk wakker toe ek wéér die stem hoor: "Gaan gee die pond vir Jimmy Strydom." Ek val half van my bed in die buitekamer af en nael huis toe. Het die lewe van drank en dwelms my eindelik ingehaal? Iemand wat stemme hoor, is mos besig om die kluts kwyt te raak. Ek loop my moeder in die huis raak en vertel haar asemloos van die vreemde stem. Sy kyk lank na my voor sy antwoord: "Die Here het met Samuel gepraat. Miskien praat Hy met jou ook." Maar dit is eers toe ek, terug in my kamer, weer op die bed gaan lê en die stem ’n derde keer hoor, dat ek behoorlik skrik. Nou is ek te bang om alleen te wees en vlug weer huis toe - hierdie keer om met my pa te praat. Hy lyk egter heel op sy gemak en bied selfs sy motor vir my aan sodat ek die opdrag kan gaan uitvoer! Heel verward van skok besluit ek om liewer te gehoorsaam… Die gebeure wat tot hierdie onver-klaarbare oomblikke aanleiding gegee het, strek terug na my ses-tiende jaar toe ek begin werk het. Al die jare wat ek kan onthou, was my ouers toegewyde kinders van die Here. Maar as tiener het ek my eie pad en maats gekies en toe ek begin werk, het ek totaal van God verval - my ouers se mooi opvoeding en vermanings ten spyt. Maar goeie ouers gooi nie ’n kind weg nie, en ek het by hulle aan huis aangebly, ten spyte van my wilde lewe. Binne enkele maande nadat ek begin het om te werk, het ek deel geword van ’n drinkende en dagga-rokende klomp jong-mense. Binne ’n kort tydjie was my verslawing só erg dat die mynbestuur my op 19-jarige ouderdom na ’n inrigting gestuur het, omdat ek toe alreeds 'n alkoholis was. Alles tevergeefs! Ek was wild en onbeheerbaar. As lid van een van die destydse "ducktail"-bendes het ek met dagga begin smokkel. Na my ouers of predikers wou ek hoegenaamd nie luister nie. In my oë was Christene vervelige wesens wat ’n God nodig gehad het omdat hulle swakkelinge was. Vir drie jaar lank was ek feitlik nie een aand nugter nie. Maar êrens keer die Goeie Herder ’n mens voor. Een Saterdagaand ervaar ek in ’n helder droom hoe iemand my in ’n donker tonnel inlei. Soos ons vorder, word die tonnel al swarter, en spoedig strompel ons deur vuil modder-water. Ek ervaar ’n skrikwekkende benoudheid en kyk terug om na die tonnelopening te vlug, maar van daardie kant stoot ’n massa mense my vorentoe. En toe loop ek my vas teen ’n muur. "Waarheen nou?" skreeu ek. "Kyk af," antwoord ’n onbekende stem. Ek gehoorsaam en sien ’n groot gat in die grond wat van my af soos ’n mynskag in die aarde verdwyn, met ’n aantal lere wat na onder lei. Ons begin ondertoe klim, maar vind die lere is smerig en nat van roeswater. Kort daarna raak ek bewus van ’n onaardse geskreeu, en toe ek afkyk, sien ek ’n vlammehel met massas mense wat gillend en vloekend in die vuur ronddryf. Totale verloren-heid spoel oor my, maar toe ek na bo probeer vlug, voel ek weer die skare mense waardeur ek nie kan dring nie. Toe verloor ek beheer en val na benede. "O God, help my!" Byna dadelik sien ek ’n volmaakte Hand onder haelwit moue wat van bo af kom en my vasgryp. Ek word in ’n sittende posisie op my bed wakker, en voor ek enigsins kan reageer, sê ’n stem: "Jy sal nooit weer alleen wees nie." Van skone verligting lê ek weer. Toe oorval ’n rustelose slaap my sodat ek eers die volgende middag om 14:00 wakker word. My eerste gedagte is dat dit Sondag is en ek onthou van ’n afspraak met my vriende om by die Mynklub te gaan snoeker speel. Dit is toe dat ek die vreemde stem vir my hoor sê om vir Jimmy Strydom my enigste pond te gaan gee. My plan was om te gaan drank koop, maar hierdie stem het blykbaar ander planne gehad. Toe ek dieselfde stem vir die derde maal hoor, sit ek haastig af na my vader. Verbeel ek my, of is dit onverbloemde blydskap wat ek op sy gesig sien? Sy stem is egter bedaard genoeg toe hy vir my verduidelik hoe Jimmy Strydom lyk. Hy is ’n hyserbestuurder op die myn en werk saam met my pa. Ek sou hom die aand by die kerk kon kry. Hy het permanent nagdiens gewerk wat hom die geleentheid gebied het om daagliks van Carletonville na Johannesburg te ry waar hy aan ’n Seminarium gestudeer het vir voltydse Kerkbediening. Ek ry toe later kerk toe met ’n deurmekaar gemoed. My hele gemaklike, sondige lewe is deur ’n enkele droom erg omgekrap en die helder stem daarna het my beslis nie gekalmeer nie. Ek voel bitter ongemaklik om tussen kerkmense na iemand te soek. Maar die droom spook sterker by my as my voorkeure. By die kerk aangekom, sien ek vier mans op die sypaadjie. Ek herken Jimmy aan my pa se beskrywing, al is sy rug na my gekeer. Ek roep eers na hom, maar hy hoor my skynbaar nie. Ek hamer teen die kant van my pa se motor, maar dit lyk nie of die mans hulle aan my steur nie. Ek weier ook om my aan die netjies geklede kerkgangers te steur. Ek klim uit die motor en stap na die geselsende broeders, al steek my vuil eendstertmondering (kakie-jeans, rooi blommetjieshemp en leerbaadjie) skerp af. Wat hulle van my hare dink, pla my nie. My boskasie is vol strikkies en ringe - ’n teken van al my wengevegte. Toe ek ’n meter van die kerk se deur af is, sien Jimmy my raak. Hy weet baie goed wie ek is, en hy gee my nie eers kans om te praat nie voor hy sy arms om my slaan en my vertel hoe bly hy is om my by die kerk te sien. Ek wil my met alle geweld teen hierdie dweper verdedig, maar hy stoot my hartlik die kerkgebou in - tot by ’n sitplek langs ’n venster in die derde ry van voor af - die hele tyd vrien-delik en geselsend. Die eerste ding wat my tref, is hoe die mense my aanstaar. Ek is sommer dadelik woedend en besluit om te loop sodra daar gebid word. Maar die diens het nog nie begin nie en hier sit ek - seker die kwaadste kerkganger in die geskiedenis. En die volgende oomblik word my enigste ontsnaproete ook geblokkeer toe ’n allerverskriklike groot vrou met drie kinders hier langs my instoom. Ek sien aan die manier waarop sy gaan sit, dat sy nie planne het om binnekort van posisie te verander nie. En toe sy ’n kombers op die vloer voor haar voete gooi en haar drie spruite daarop uitpak, verloor ek alle hoop. Teen dié tyd is Jimmy op die verhoog waar hy begin om die sang te lei. Ek staan verdwaas saam met die mense op en hoor hoe hulle sing. Hierna skuif die res van die diens soos ’n dowwe rolprent voor my verby. Al wat ek later hoor, is die prediker se woorde wat soos masjiengeweer-koeëls in my rigting afgevuur word: "Ek het vir jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie." Al wat ek verder onthou, is dat ek feitlik fisies in my bank neer-gedruk word deur ’n vreeslike sondebesef, en dat daardie geopende deur waarvan die prediker praat die enigste lig in die nagduisternis skyn te wees. Ek kan nie verklaar wat gebeur het nie, maar ek bevind my kort hierna in ’n bidkamer en voel ’n bomenslike krag oor my kom. Hoe ek daar gekom het, weet ek nie. Hoe lank ek daar voor die Aangesig van die Here gelê het, weet ek ook nie, maar toe ek my oë oopmaak, weet ek sonder twyfel dat die Here my smerige lewe van my af weggeneem het. Ek kyk op en sien Jimmy by my staan, blydskap oor sy hele gesig geskryf. Toe ek op my voete kom, weet ek nie juis wat om te sê nie; maar by ’n gebrek aan woorde, haal ek die pond uit my sak en gee dit aan hom. Ek weet nie of ek iets anders verwag het nie, maar beslis nie hoe hy toe reageer nie: trane begin oor sy gesig loop… Ek probeer my verleentheid verberg: "Ek weet nie hoekom jy huil nie, oom Jimmy. Wees liewer bly, want ek wou vanmiddag hierdie geld gaan uitdrink het." Ek glo nie dat hy gedink het ek is snaaks nie, maar hy sê net: "Hendrik, glo jy die Here het vanaand jou lewe verander, jou siel gered vir die ewigheid?" "Ek…wel, ja!" "Nou, dit is wonderlik! Maar laat ek jou iets anders vertel. Ek ry elke dag Bybelskool toe en terug, en dit maak dat my gesin ’n bietjie swaarkry. Vanoggend het ek en my vrou baie ernstig gebid en vir die Here gevra om vir ons ’n pond te stuur, omdat ons dit baie nodig het. Ons twee seuns het omlope op hulle koppe en ons kan dit nie behandel nie. En ons het vandag nog niks gehad om te eet nie. Verstaan jy my trane? Jy het die kosbaarste geskenk in die wêreld gekry. En my noodgebed is terselfdertyd beantwoord! Op daardie oomblik, terwyl ek voor oom Jimmy en die Here staan, voel ek hoe ’n koel genade en blydskap oor my losgelaat word. Ek kyk net na hom en besef daar is iets en Iemand groter en beter as die lewe wat ek tot dusver gelei het. En in my word ’n begeerte gebore om meer van dié heerlikheid te weet, meer van God te beleef. Na daardie oggend het ek nooit weer dagga of iets anders gerook of sterk drank gedrink nie. Ek is in ’n wonderoomblik omskep tot ’n nuwe mens! (*Pond = ongeveer R2.00, maar die waarde was baie meer as ons hedendaagse R2.00). [Hierdie getuienis verskyn ook in die boek "GOD IS OP DIE TROON", Jannie Hough, Creatix Boeke, 2009 en is beskikbaar by 018 294 5587 / 072 360 7531 ]. |