VERTRAAG JOU PAS
  Maar ek vertrou op U, Here, ek sê, U is my God. My tye is in U Hand… (Ps. 31:15-16).
Daar is mense wat só besig is dat hulle nie tyd het om te "lewe" nie. Elke minuut van elke dag is volgeprop en selfs die gedagte om hulle pas te vertraag, word deur hulle verafsku. Hierdie mense bereik nie noodwendig meer as mense wat geleer het om teen ’n stadiger pas en ewewigtig te lewe nie.
Dis eintlik ’n kwessie van waarde-bepalings. Dit wat sommige mense as tydverkwisting beskou, word deur ander met dank-baarheid as ’n tyd van rus en verkwikking beskou. Daar is mense wat met oortuiging glo dat hulle nie tyd het om ’n sinvolle gebedslewe te ontwikkel nie. Hulle is só besig om te werk - selfs om vir God te werk - dat hulle dit as onbelangrik beskou om rustig tyd in Sy heilige Teenwoordigheid deur te bring.
Net ’n geestelik onvolwasse persoon sal tyd wat in gebed, Skrifstudie en bepeinsing by God, geestelike ontspanning en ander geestelike dissiplines verwyl word, afskryf as verlore of ver-kwiste tyd. As jy in die stilte by God jou lewe beplan, kan die wêreld voortspoed, maar jy sal meer in ewigheidswaarde bereik as ander wat hulself angsvol voortdryf van minuut tot minuut.
Moet nooit die fout maak om die tyd wat jy by God deurbring as verkwiste tyd te beskou nie. Om in Sy Teenwoordigheid stil te wees, kan die konstruktiefste en vrug-baarste oomblikke van jou lewe wees! Heilige Gees van God, maak my gedurig daarvan bewus dat die kosbaarste oomblikke van my lewe dié is wat ek in U Teen-woordigheid deurbring.

Al die probleme van die lewe oor-val ons omdat ons weier om elke dag vir ’n wyle in ons kamer stil te word. - Blaise Pascal

[Uit: Elke Môre Nuut, Solly Ozro-vech, CUM, 1999].

Indeks     Index