WANNEER LOGIKA FAAL
 

"God… ry deur die hemel om jou te kom help" (Deut. 33:26, NAV).
Steve Anderson en sy vriend Joe was op pad na Steve se siek skoonma in Joe se tweesitplek-vliegtuig. Toe hulle die lughawe nader, het hulle deur dik mis gevlieg en die beheertoring het hulle laat weet dat die lughawe gesluit is. Hulle brandstof was egter baie min en Steve het gebid.
Skielik het 'n stem gesê: "Goed, ons grondpersoneel is besig om voor te berei. Maak gereed vir 'n noodlanding." Terwyl hulle besig was om te daal, het die kontroleur skielik geroep: "Trek op! Trek op!" Deur 'n gat in die mis kon hulle die besige snelweg onder hulle sien en dat hulle net-net 'n brug sou mis!
Die kontroleur het voortgegaan en gesê: "Luister na my en ek sal sorg dat julle veilig land." Hy het kalm bevele aan hulle gegee totdat hulle uiteindelik geland het. Joe het die radio in die hand geneem en vir die beheertoring gesê: "Dankie vir julle instruksies. Ons sou dit nooit daarsonder gemaak het nie. Julle het ons lewens gered!"
Die kontroleur het nie geweet waarvan hy praat nie. Die beheertoring het kontak verloor net nadat hulle die eerste keer kontak gemaak het en was doodverbaas oor die perfekte landing.
As die kontroleur hulle dan nie gelei het nie, wie het? Daar is geen logiese verklaring vir wat gebeur het nie, maar slegs op 'n bomenslike vlak: "God… ry deur die hemel om jou te kom help… Sy arms is altyd onder jou" (Deut. 33:26-27, NAV).
Die Psalmdigter het geskryf: "Hy sal Sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan" (Ps. 91:11, NAV). Steve Anderson beaam dit: "Ek glo dat God 'n engel gestuur het om ons veilig tot op die grond te lei." En Hy sal dieselfde vir jou doen!
[Uit: Die Woord vir Vandag, Uitgawe 4/2008].

Indeks     Index