LEER OM TE LOOP | |
  |
Die lewe is 'n wandeling. Ons gee elke dag treë. Ons toekoms word bepaal deur die treë wat ons vandag gee.
Toe my kinders leer loop het, het hulle nie baie ver gevorder sonder om te val nie. Hulle het baie beter gevaar wanneer hulle my hand vasgehou het. Of hulle pa se hand. Ons kon hulle weg van gevaar lei en veilig besorg waar hulle moes gaan. Soms het hulle egter sonder ons hulp vinnig 'n koers ingeslaan. My seuntjie het dan geval en homself beseer, of my dogtertjie het êrens heen gedwaal waar sy nie veronderstel was om te gaan nie en dan in die moeilikheid beland. Soms het ons toegelaat dat daardie dinge gebeur omdat ons wou hê hulle moes uiteindelik leer om sonder ons hulp te loop. Ons het ook natuurlik tussenbeide getree en hulle beskerm wanneer ons gevaar gesien het. Ons doelwit was egter om hulle voor te berei vir die dag wanneer hulle nie meer ons hulp sou nodig hê nie. Ons was opgewonde om te sien hoedat hulle vir die eerste keer die vreugde van vryheid ervaar. Om te leer om met ons Hemelse Vader te wandel, is ietwat anders. Hy wil hê dat ons ons hand uitstrek en Sy hand neem, maar Hy wil nie hê dat ons dit ooit laat los nie. Dit is trouens Sy begeerte dat ons steeds meer en meer vir elke tree wat ons gee, van Hom afhanklik word, want Hy wil ons neem na plekke waar ons nog nooit tevore was nie. Tot op hoogtes wat ons ons nie kan voorstel nie. Om daar uit te kom, moet ons deur diep valleie, oor verraderlike berge, ruwe terrein en op smal paadjies van die lewe reis - dit is plekke waar ons maklik kan verdwaal of die spoor byster raak. En dis heeltemal buite die kwessie dat ons ons eie rigting kan inslaan en verwag om die plek wat Hy vir ons berei het, veilig te bereik. Anders as wat ons vir ons kinders leer, sal ons nooit die vreugde van ware vryheid ken totdat ons verstaan dat ons nie 'n enkele tree sonder Sy hulp kan gee nie. Dit is egter ons wat die eerste tree moet gee. As ons dit nie doen nie, sal ons nooit leer om met Hom te wandel nie. Straks is ons so bang om 'n verkeerde tree te gee dat ons hoegenaamd geen voet wil versit nie. God het nie die water van die Jordaan vir die Israeliete geskei voordat hulle hul voete in die water gesteek het nie (Josua 3:15-16). Dit is omdat God altyd vereis dat ons die eerste tree gee. Om daardie tree te kan gee, moet ons na God opkyk, Sy hand neem en sê: "Lei my op die pad wat U vir my het, Here. Van vandag af wil ek met U wandel. Ek gee hierdie tree in die geloof en vertrou dat U my hier sal ontmoet. Laat my hart dieselfde as U hart klop." As jy eers daardie eerste tree gegee het, sal God jou wys watter ander treë jy moet gee. Hy sal jou leer hoe om in die lig van Sy waarheid, openbaring en liefde te wandel. Jy sal maniere ontdek waarop jy die dinge kan vermy wat jou skei van Hom en alles wat Hy jou bied. Jy sal leer hoe om vrees, terneergedruktheid, kritiek, eensaamheid, verlies, onvergewens-gesindheid en teleurstelling agter te laat. Jy sal verstaan wat dit beteken om deur die donker tye in jou lewe te wandel met Sy vertroostende Teenwoordigheid as jou enigste lig. Ek weet hoe dit is om sonder Sy lig te wandel. In my tiener- en twintigerjare het ek weens dwelms, alkohol, okkultiese gebruike, Oosterse gelowe en ongesonde ver-houdings, verward rondgeval in 'n poging om 'n uitweg te vind uit die emosionele pyn wat ek daagliks verduur het. Ek wou tot elke prys lewe, maar het met elke besluit en tree nader aan die dood beweeg. Ek het alles op die proef gestel, maar niks het gewerk nie en ek het wanhopig geword. Terwyl ek my selfmoord tot in die fynste besonderhede beplan het, het ek in my binneste geweet dat ek nie werklik wou sterf nie. Ek kon egter nie langer met die pyn saamleef nie, en daar was geen ander manier waarop ek dit kon keer nie. Toe 'n goeie vriendin my hopeloosheid sien en my aan haar predikant gaan voorstel, het ek oplaas gevind waarna ek altyd gesoek het. Pastoor Jack Hayford het my daarop gewys dat ek na liefde, aanvaarding, doelgerigtheid, vervulling, vrede en vreugde gesoek het en dat daardie dinge net op een plek gevind kon word. Toe ek bid, "Jesus, kom in my hart. Vergewe my dat ek nie volgens U weg gewandel het nie en lei my op die weg wat U vir my het," het ek geweet dat ek daardie plek gevind het. Dit was aan Sy voete. Vir die eerste keer in my lewe het ek hoop gehad. Dit was die eerste en grootste tree op 'n reis wat my hele lewe sou verander! Dit maak nie saak hoe ver van God jy afgedwaal het nie, maar wanneer jy jou lewe aan die Here oorgee, word 'n weg vir jou gebaan van waar jy op daardie oomblik is na waar jy veronderstel is om te wees, en Hy plaas jou daarop. Dit is hoe wonderlik Sy krag is! As die pad waarop jy jou bevind, kronkel, sal Hy dit reguit maak. As jy die verkeerde rigting inslaan, sal Hy jou laat omdraai. As jy tot stilstand gekom het, sal Hy jou weer aan die gang kry. As jy in 'n sirkel stap, sal Hy jou weer in die regte rigting stuur sodat jy jou bestemming kan bereik. Die blote feit dat jy jouself aan Hom oorgee, sal jou onmiddellik op die regte pad plaas en jou in die regte rigting laat beweeg. Terwyl jy een tree op 'n keer gee met jou hand in God s'n en Hom toelaat om te lei, sal Hy jou neem waarheen jy moet gaan. Die oomblik toe ek daardie besluit neem, het ek gevoel hoedat 'n belangrike koersverandering plaasvind. Ek het nie geweet in watter rigting ek op pad was nie, maar ek het 'n lig aan die einde van die lang, donker tonnel van my lewe gesien en het daarheen begin beweeg, weg van die lewe wat ek geken het. Weg van die goddelose vriende, die vernietigende ge-woontes, die selfverheerliking. Weg van hopeloosheid, terneergedruktheid en sinloosheid. Die pad was nie gelyk nie en ek het dikwels gestruikel, nie omdat God my gelos het nie, maar omdat ek Hom gelos het. Wanneer ek agterna na Sy hand gereik het, was Hy egter altyd daar om my op te help en na die regte pad terug te bring. Ek wandel nou reeds byna dertig jaar met die Here. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat ek toe 'n ander mens was en 'n heeltemal ander lewe gelei het. Ek weet ook dat ek nooit sal wil terugkeer na die ou manier waarop dinge toe was nie. Af en toe gebeur dit dat ek terugval op my ou gewoonte om dinge op my manier te wil doen. Soms vergeet ek dat ek vir elke tree op Hom moet vertrou. Pastoor Jack het my die verhaal vertel van 'n man wat vroegoggend gebid het: "Here, ek het vandag niks verkeerds gedoen nie. Ek het geen foute gemaak nie, geen verkeerde woorde gesê of enige verkeerde gedagte gekoester nie. Sover het ek alles reg gedoen. Ek gaan egter van nou af regtig van U afhanklik wees, Here, want ek staan op die punt om uit die bed te klim." Het ons nie almal al soms so gevoel nie? Dit is egter hoe God wil hê dat ons moet voel. Hy wil nie hê dat ons net as allerlaaste uitweg op Hom moet vertrou wanneer ons 'n mediese noodtoestand of 'n geldelike krisis beleef nie. Hy wil hê dat ons vir elke asemteug op Hom vertrou. En anders as wat dit dalk mag klink, is so 'n lewe glad nie versmorend nie. Dit is bevrydend! Om te leer om met God te wandel, is 'n proses. En juis wanneer ons dink ons verstaan dit nou alles, lei God ons na 'n nuwe plek waar ons ou gewoontes nie meer werk nie. Dit mag selfs voel of ons van voor af leer loop. In 'n sekere sin is dit ook so. Ons betree onbekende terrein en word spoedig daaraan herinner dat ons nie alleen oor die weg sal kan kom nie. Wanneer ons Sy hand neem, begin ons egter vlieg. God wil hê dat ons ver bo die beperkings van ons lewe en onsself sweef. Hy wil ons neem na plekke waar ons nog nooit voorheen was nie en waarheen ons nie sonder Sy hulp sal kan gaan nie. Toe God Moses gebruik het om die Israeliete uit Egipte te lei, moes hulle leer om vir elke tree op hulle reis na die Beloofde Land op die Here te vertrou. Wanneer hulle dit nie gedoen het nie, het hulle in die moeilikheid beland. Dit gebeur ook vandag met ons. God laat ons op 'n pad na 'n plek loop waar ons nog nooit vantevore was nie, en ons dink ons misluk as ons op Hom moet staat maak om daar te kom. Ons probeer dit alleen bereik omdat ons dink afhanklikheid is 'n teken van swakheid, in plaas daarvan dat ons besef dit is 'n teken van ons bereidheid om God toe te laat om sterk te wees in ons. Wees bly as jy op 'n plek in jou lewe is waar jy voel jy kan nie een tree sonder die Here se hulp gee nie. Hy het jou waar Hy wil hê jy moet wees. As jy wonder: 'Het ek iets verkeerd gedoen?' is die antwoord heel waarskynlik: 'Nee, jy het iets reg gedoen.' God het jou op hierdie pad, ongeag hoe steil en onbegaanbaar dit op hierdie oomblik lyk, omdat jy bereid is om Hom te volg. Hy wil groot hoogtes deur jou bereik wat slegs uit 'n lewe in die geloof kan plaasvind. Hy wil jou onverdeelde aandag hê omdat jy nie op jou eie hierdie dinge kan doen nie. Dié pad is nie 'n straf nie; dit is 'n voorreg. Dit is nie 'n beperking nie, dit is 'n beloning! As jy vir 'n geruime tyd al met God wandel en dit voel skielik of jou lewe tot stilstand kom, moet jy nie skrik nie. God is heel waarskynlik net besig om jou rigting aan te pas. Wanneer God jou in 'n ander rigting stuur, wil dit nie sê dat jy op die verkeerde pad was nie. Dit beteken bloot dat iets verander moet word om jou in die rigting te stuur waarheen God jou nou wil neem. Dit maak ook nie saak hoe jonk of hoe oud jy is nie. Solank jy asemhaal, het God vir jou nuwe weë om te volg en opwindende dinge om te doen. Die beste ding om te doen, is om op Sy leiding te vertrou en voort te gaan. Dít is wat 'n wandel in die geloof beteken. Abraham het in die geloof gewandel toe God hom uit alles wat vir hom bekend was, gelei het na 'n plek waar hy nog nooit was nie. Hy het geweet God het hom geroep van waar hy was, maar hy het nie geweet waarheen God hom sou lei nie. Abraham se verhaal is een van die beste voorbeelde in die Bybel met betrekking tot 'n wandel in die geloof: ' ...Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom' (Hebreërs 11:8). Hoe dikwels het ons nie al so gevoel nie? Ons trek weg omdat God ons lei, maar ons weet nie waarheen ons op pad is nie. Pastoor Jack Hayford sê: "Dit is 'n uitnemender weg om die Here te volg sonder om te weet waarheen jy op pad is as om te weet waarheen jy op pad is en jy volg nie die Here nie!" Is dit nie waar nie! Jy mag dalk die voorafgaande aanhaling 'n hele paar keer wil lees. Dit sal 'n groot vertroosting vir jou wees op daardie dae wanneer jy wonder of jy hoegenaamd êrens heen op pad is. Moenie dat dit jou kwel nie, ons het almal al so gevoel. Abraham het ook. So ook Moses en Noag. Al die werklike groot Godvresende mense in die geskiedenis het so gevoel. God openbaar selde die besonderhede van waarheen Hy jou neem, omdat Hy wil hê jy moet tot Hom bid en na Hom luister terwyl Hy jou vandag, hierdie week, hierdie seisoen, hierdie jaar, en op hierdie tydstip op jou pad lei. Ek wil graag twee woorde van advies gee wanneer jy hoor dat God vir jou sê dat jy in 'n sekere rigting moet gaan: Doen dit! Om te weier om te wandel volgens God se leiding, sal jou nêrens bring nie. Jy sal wel êrens uitkom, maar as dit nie is waar God jou wil seën nie, is dit steeds nêrens nie! Dit maak nie saak wat jou situasie op die oomblik is, of waar jy jou bevind nie, God het 'n pad vol goeie dinge vir jou. Bly naby God en jy sal dit vind. Sê, "Wys vir [my] watter rigting [ek] moet gaan en wat [ek] moet doen" (Jeremia 42:3). Hy sal dit doen en, as jy Sy leiding nou-geset volg, sal Hy jou nie laat afdwaal nie. Met elke tree sal Hy meer omtrent Homself openbaar. "[Jy] sal agter jou 'n stem hoor sê: 'Hier is die pad, loop hierlangs'" (Jesaja 30:21). Strek dus nou jou hand uit en neem God se hand. Hy belowe dat Hy jou nie in die steek sal laat nie! Gebed: God, ons Vader, ek wil nie 'n enkele tree gee sonder U nie. Ek strek my hand uit en vra dat U my op U weg lei. Dankie dat dit nie saak maak waar ek op hierdie oomblik is nie, selfs al het ek heeltemal die pad byster geraak, maar dat U op hierdie oomblik wat ek my hand in U hand lê, vir my 'n weg sal berei van waar ek nou is na waar ek moet wees. En dat U my daarlangs sal lei. Dankie dat U genade vir my so oorvloedig is. Hou my op die pad wat U vir my berei het en neem my waar U wil hê ek moet gaan. "Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig" (Psalm 143:8). Ek weet dat ek koers verloor wanneer ek die wedloop sonder U probeer aanpak. Ek verbind my dus vandag daartoe om volgens U weg te wandel. Dankie dat U my help om weer op te staan en voort te gaan selfs wanneer ek swak word en struikel. Al kan ek nie presies sien waar ek gaan nie, is ek daarvan oortuig dat U my in staat kan en wil stel om te kom waar ek moet wees. Dankie, Here, dat U besig is om my te leer om in algehele afhanklikheid van U te wandel, want ek weet my grootste heil lê daarin! Uit: Net Genoeg Lig vir my Volgende Tree, Stormie Omartian, Struik Christelike Boeke, 1999. |