'N REDDINGSTOU... | |
  |
![]() Gebed is 'n Christen se reddingstou. Dit is wedersydse kommunikasie tussen mens en God en verg van hom/haar om met Hom te praat, maar óók na Hom te luister. Hierdie kommunikasie geskied nie net sommige tye van die dag of voor maaltye nie. Gebed is 'n "oop" kommunikasielyn waar-deur God en Sy kinders elke dag en elke nag te eniger tyd met mekaar kan praat. Die Bybel leer ons dat Daniël die gewoonte gehad het om drie keer op 'n dag te bid (Daniël 6:11). Sy volk en hy was vir jare in 'n vreemde land in ballingskap. Tog het hy sy gebedsverhouding met God in stand gehou. Ons lees slegs van 'n paar uitsonderlike dinge wat met hom gebeur het, maar dink 'n bietjie daaraan hoe oud hy geword en hoe geweldig sy invloed in 'n vreemde koninkryk was. Die onderskeie konings en hulle volgelinge was nie Christene nie en baie van sy Joodgenote het die Here ook nie volhardend gedien nie. Daar was dae en selfs maande wat dit ook vir hom moes gelyk het asof niks gebeur nie. Tog het hy volhard om te bid en die Here te dien. Daarom het die Here hom uitermate verhoog en gebruik - selfs tussen die heidene! Moenie ophou bid wanneer dit lyk asof niks gebeur nie! Die Skrif toon vir ons aan dat Daniël se gebedslewe sy hele lewe en persoonlikheid beïnvloed het. Die koning het hom as wyser as enige van sy ander raadgewers beskou en hom in 'n posisie bó almal aangestel. Hy was getrou. Hy het 'n wonderlike gees van kennis en verstand geopenbaar en geen persoon kon iets in sy lewe vind waarna hulle 'n vinger kon wys nie! Omdat Daniël in sy gebedsverhouding met God volhard het, was hy in staat om die koning se droom te verklaar en sodoende sy eie lewe en die lewens van die wyse manne van die koning te spaar. Die koestering van sy gebedslewe het ook strawwe toetsing deurstaan. Omdat hy geen kompromie wou aangaan nie, is hy in die leeukuil gegooi. Dit was egter net die geleentheid vir sy God om op die toneel te verskyn, die reddingstou uit te gooi, en hom met eer daar uit te haal! [Misleiding is vernietigend, Sharon Daugherty, VGU 2001]. |