HIËNAS KAN OOK LUISTER! | |
  |
Suid-Afrika, vroeë tagtigs. Op die landsgrense word sedert die middel sewentigs 'n stryd gevoer teen wat beskou word as ontoelaatbare elemente wat stabiliteit bedreig. Wettige skoolverlaters van toelaatbare ouderdom ontvang voor die voet oproep-instruksies, word in die weermag, meestal die leër, opgelei en in gevegsareas ontplooi. Jeugdiges gaan grens toe - om oorlog te maak vir volk en vaderland. In sulke tye word die wet genadeloos toegepas. Of die jong moeder in 'n rystoel sit en vir haar kleuters moet sorg, en of 'n invalide-vader se enigste bron van hom weggeneem word - dit is irrelevante omstandighede. Só lyk dit in 'n land wat oorlog maak. In haar plattelandse huisie is 'n ou weduwee een oggend om elfuur besig om haar seuns in gebed aan die Here op te dra. Sy het gehoop haar jong kinders sal êrens in die land geplaas word, maar die onvermydelike het gebeur: hulle moes grens toe. Na Oshakati, bo in Ovamboland, omtrent 60 kilometer van die grens van Angola. 'n Landstreek waar die dood voortdurend in alle vorme vir 'n jong soldaat lê en wag. Maar die dag toe hulle vertrek, het hulle by haar gaan kniel en het sy hulle vir die Here gegee. Wat ook al haar vermoëns of kwalifikasies - op daardie oomblik het dit nie saak gemaak nie. Al wat toe van belang was, was haar verhouding met God, haar kindskap, haar gebedslewe wat deur die jare tot 'n vriendskapsverhouding met die Regter van die heelal gelei het. Voor sy hulle laat gaan het, het sy vir 'n oomblik nog met hulle vertoef en toe gesê: "Ek sal elke oggend om elfuur vir julle bid. Julle sal nooit alleen wees nie." Toe het sy hulle gegroet... Op daardie stadium was die dagblaaie en TV-Nuus aan die brand met berigte van jongmense wat nooit weer hulle mense sou sien nie. Party gevalle het groot nuus-dekking gekry. Ander, soos die dood van Darren* (skuilnaam) het byna ongesiens verbygegaan. Hy is as klein standerd sessie koshuis toe gebring deur sy Engelse moeder wat niks sou ontsien om haar kind te beveilig nie. Hy was haar lewe. Die koshuispersoneel het dit sommer gou agtergekom! Hy het gesond ontwikkel, was 'n gesogte sportman en deel van 'n gelukkige groep Engelssprekendes in 'n dubbelbbelmediumskool. Sy gesin was gewoon supertrots op hom. En toe kom matriek. En oproepinstruksies. Na opleiding is hy grens toe. Daar het 'n paar helikopters eendag 'n klomp soldate in 'n onherbergsame gebied afgelaai. Darren was onder hulle. Nadat hulle hul militêre operasie uitgevoer het, het hulle teruggehardloop na die wagtende helikopters. "Kom klim hier by ons in!" het een van die soldate nog half uitgelate vir Darren geskreeu. Maar hy het na sy eie vervoer wat met draaiende skroewe gestaan en wag het, gehardloop. Toe hulle helikopter die hoogte inskiet, het 'n vuurpyl uit 'n lokval hulle getref. Die dood was vinnig en genadig. Wat van hom oorbly by die skool wat hy liefgehad het, is sy naam in goue letters op 'n bruin houtpaneel in die foyer van die skoolsaal, onder die woorde "Ons vir jou, Suid-Afrika." Sy moeder huil nog elke dag oor haar seun... In hierdie selfde tyd is die weduwee-moeder een môre net voor elfuur, soos baiemaal die afgelope maande, besig om haar twee seuns met haar gebede toe te vou. Dié oggend is hulle juis deel van 'n groep van omtrent dertig soldate op die grens wat agter op 'n militêre vragmotor patrolliewerk verrig. Hulle oë is wyd oop. Hier kry 'n man net een kans. Maar daar is skielik 'n ligter oomblik toe 'n hiëna langs die stofpad opspring en saam met die troepedraer begin hardloop. Dit jil en lag oor die vreemde besoeker. Snaaks is dit bepaald, want die hiënas van daardie geweste is skugter diere wat meestal snags in die veld verskyn. Maar hierdie outjie is skynbaar van ander stoffasie, want hy hardloop nie net resies langs die trok nie, maar versnel na 'n ruk en spring voor die voertuig in. Toe hy eers voor is, hardloop hy nog vinniger. Die bestuurder beweeg egter rustig, want die wêreld is besaai met landmyne, en jou oë is maar onophoudelik op die pad vir enige tekens van los grond. Maar die vreemde besoeker bly nie lank buite hul sig nie, want binnekort sien hulle hom weer voor hulle. Maar nou het hy tot stilstand gekom en is besig om in die grond te grawe. Die lorrie se remme word aangeslaan en die soldate klim behoedsaam af. Eers toe hulle nader beweeg, sien hulle die groot landmyn wat deur die dier oopgegrawe is! Na 'n ruk se gespook om die dier eenkant te kry, word die landmyn onskadelik gestel. Toe eers sien hulle dat daar 'n vars osriem in die gat is. Die reuk daarvan moes die hiëna na die landmyn gelok het, en hy was besig om die riem uit te grawe toe die soldate opdaag. Terwyl die jongmanne half verdwaas rondmaal, kyk een van hulle op sy horlosie. Hy roep sy broer en beduie vir hom: "Presies elfuur. Mamma is besig om te bid." Toe kyk hulle onbeskaamd op om dankie te sê… [Kallie Redelinghuys uit die boek God is op die troon, Jannie Hough, creatix boeke, 2009]. |