'N CHRISTEN SE TOERUSTING | |
  |
![]() Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (Efesiërs 6:11-12). Lees en bedink ons Efesiërs 6:10-18 begryp ons dat hier sprake is van twee koninkryke: die Koninkryk van Lig en die Koninkryk van Duisternis. In die Koninkryk van Lig regeer God die Vader, Jesus die Seun, en die Heilige Gees saam met engele en hemelwesens. In die Koninkryk van Duisternis regeer Satan met demone (gevalle engele) en hulle het mag oor die sondige wêreld, die aarde: Ons weet dat óns uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelo-wiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het… (2 Kor. 4:3,4a). Kinders van God is dus op hierdie aarde in 'n geestelike stryd gewikkel wat met geestelike wapens geveg moet word: Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor.10:3-5). Hemel en hel is 'n werklikheid. Jesus sê aan Sy dissipels: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan (Matt. 10:28). Voor Sy dood troos Hy hulle met hierdie woorde: Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie (Joh. 14:1,2). Nou ontstaan die vraag: Hoe kan ons wat nog in menslike vorm bestaan, 'n geestelike stryd voer? Paulus beskryf in Ef. 6:13-18 vir ons die wapenrusting wat God aan ons voorgeskryf het om die magte van duisternis te weerstaan en beveg: Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees - dit is die woord van God - terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges (Ef. 6:13-18). Indien ons ons beklee met hierdie wapenrusting en dit gebruik, sal ons kragtig wees in die Here en in die krag van Sy sterkte! Ons sal weerstand kan bied teen die Bose wat soos 'n brullende leeu rondloop om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Sy doelwit is om te steel, te slag en te verwoes (Joh. 10:10a), maar Jesus het gekom sodat God se kinders "die lewe kan hê en dit in oorvloed" (Joh. 10:10b NV). Trek dus die volle wapenrusting van God aan en leef 'n OORWINNENDE EN OORVLOEDIGE LEWE! (Glaudie Cullinan 018 297 3615) |