"EK IS DIE HERE JOU GOD, EK VAT JOU HAND" (Jes. 41:13)
  Wat 'n pragtige belofte om hierdie dag mee te begin - Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand. Is daar groter trooswoorde as juis hierdie vier? Kom ons luister na Sy Stem: "Is daar ‘n tekort aan een of ander noodsaaklikheid in jou lewe? Ek vat jou hand – niks sal jou ontbreek nie. Is jy uitgeput en moeg na siel en ligaam? Ek vat jou hand en lei jou na waters waar rus is - Ek verkwik jou siel. Sit jy vasgevang in die diepste duisternis, moenie bang wees nie – kyk, Ek is met jou. Ek vat jou hand. Ek vertroos jou. Hier is My stok en My staf, gebruik dit, en Ek sal jou uit die duisternis in die lig inlei. Is jou hart in stukke gebreek en sit jy bedroef en moedeloos langs die pad, glad nie lus om een tree verder te gee op jou lewenspad nie? Kom, vat My hand. Vir geen oomblik sal Ek jou begewe of verlaat nie – Ek vat jou hand en stap saam met jou die onbekende toekoms in. Die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag, want Ek is elke oomblik aan jou sy. Kyk, Ek vat jou hand!"
VAT MY HAND, HEER, EN HOU DIT VAS!

Indeks     Index