SOUT SOUTER SOUTSTE | |
  |
'n Lekker stukkie biltong is nooit te versmaai nie. Vir ons vandag is dit 'n lekkerny, maar vir ons voorouers was dit meer as dit. Vóór yskaste was dit 'n bietjie moeiliker as vandag om vleis vars te hou. Sout het 'n baie belangrike rol in die bewaring van vleis gespeel. Net so in die Bybelse tye. Veronderstel Petrus en Johannes het 'n goeie dag op die meer van Galilea gehad en hulle het sommer baie vis gevang. Om die vis in goeie kondisie by die mark in Jerusalem, 100 km van daar af te kry, was nogal belangrik. Daarom het hulle die vis met sout ingevryf, sommer genoeg sout. Die sout vertraag die proses wat die vis laat sleg word, en Petrus en Johannes kon 'n paar rand, of eintlik sikkels, op die mark maak. Jesus sê dat ons sout in die wêreld moet wees. Ons moet dieselfde funksie in die geestelike wêreld vervul as wat sout in die fisiese wêreld vervul. Let's face it: die wêreld waarin ons leef, is sleg en baiekeer verrot. Ons regte lewe, ons opstaan vir reg en geregtigheid, ons standpunte teen verkeerde invloede, is belangrik. Ons bewaar die wêreld van verrotting. In die 18de eeu was Frankryk en Engeland se morele waardes baie swak. Frankryk het 'n bloedige revolusie gehad, maar Engeland nie. Geskiedkundiges sê dit was as gevolg van die kragtige morele invloed van een man: John Wesley. Sy prediking en die getuienis van sy volgelinge het die verskil gemaak. Hulle was sout! Jy is die sout van jou werkplek, jou klas, jou blyplek, dalk jou familie. Dáár kan jy die verrotting keer. Maar dan moet jy uit die soutpot klim! [God maak my dag, Jacie van Rensburg, LUX VERBI.BM 2002]. |