'N TYD OM TE PRAAT
  Timoteus Efese 98n.C.

"Groot is Diana van die Efesiërs!"
Die gemaskerde feesgangers wat deur die strate van Efese beweeg, jil en gil terwyl hulle met stokke op die grond, mure en verbygaande waens slaan en uitbundig voor die standbeeld van hulle gevierde godin dans. Die fees van Katagogion is 'n groot geldmaak-geleentheid vir die ambagsmanne en heidense priesters van die area en die feestelikhede rondom die dag geniet groot aftrek by die gemeenskap. Dit wil sê, groot aftrek by almal behalwe die groeiende Christelike kerk in Efese.
Timoteus, nou die bejaarde leraar van die kerk in Efese, steur hom nie juis aan die fees nie. Hy het eintlik vergeet dat dit vandag plaasvind. Hy is meer besorg oor die toenemende druk op die kerk as gevolg van keiser Diocletianus se verbanning van die apostel Johannes na die eiland Patmos en die groeiende spanning wat as gevolg daarvan in die gemeen-skap tussen die heidene en Christene ontstaan het. Timoteus onthou wat die kerk onder Nero moes deurmaak - trouens, hy was teenwoordig by Paulus se teregstelling in Rome - en dit lyk of die kerk dieselfde soort vervolging onder Diocletianus kan verwag.
Toe Timoteus om die hoek stap en hom trompop teen die feesgangers vasloop, vervul die dwaasheid daarvan hom opnuut met afgryse.
"Broers en susters, hoekom aanbid en offer julle aan 'n standbeeld wat met mensehande gemaak is en nie 'n god is nie, terwyl die ware God van hemel en aarde Sy eie Seun gestuur het sodat julle Hom en die volheid van Sy geregtigheid kan ken? Hoekom dans julle voor 'n dooie standbeeld en swig julle voor julle luste as julle die God van die hemel en die ware vreugde van Sy weë kan ken?"
Een van die priesters aan die voorpunt van die optog tree na vore en stamp Timoteus uit die pad. "Los ons uit! Ons sal doen wat ons goedvind." Die optog het egter reeds tot stilstand gekom en dis duidelik dat sommige van die mense deur Timoteus se woorde geraak is.
Dus vervolg hy: "Doen wat julle goedvind? En sê nou dit wat julle goedvind, is 'n lokval? Sê nou dit is boeie wat julle van die lewe beroof en julle aan berou en misnoeë vasketting? Jesus het gekom sodat julle lewe in oorvloed kan hê. Waarom aanvaar julle die kettings van sonde as julle in die vryheid van Sy Gees kan leef!"
"Dis genoeg!" skreeu die priester en slaan Timoteus baie hard. Die ander staan geskok en kyk. Die priester laat hom egter nie deur hulle verbasing onderkry nie. "Godslastering! Gods-lastering! Het julle nie gehoor wat hy sê nie? Hy het Diana 'n valse godin en 'n vervloeking genoem. Hy verdien nie om te lewe nie. Groot is Diana van die Efesiërs! Maak hom dood! Maak hom dood!" Met hierdie woorde slaan hy Timoteus weer met sy stok. "Groot is Diana van die Efesiërs!" roep iemand anders agter hom en lig sy stok saam met die priester. Van die ander val by hulle in en nadat hulle Timoteus met stokke en klippe geslaan het, skop hulle hom tot langs die pad om met hulle optog voort te gaan. Later het 'n groep Christene hom kom optel en na sy huis toe geneem om hom daar te versorg. Timoteus het twee dae later aan sy wonde en beserings gesterf.

Daar is 'n tyd om stil te bly, maar daar is ook 'n tyd om te praat. As een van jou vriende nie voor hom kyk nie en oor iets gaan val, is dit tog net natuurlik om uit te roep en hom te waarsku voordat hy homself seermaak. Moet ons dan nie juis te meer uitroep as sy lewe op pad na die hel afstuur en hy nie weet dat daar ‘n baie beter alternatief is nie?

Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou?
Paulus (Galasiërs 4:16).

Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete.
Paulus (1 Timoteus 1:18-19).

[Fanaties vir Jesus, Volume II, dcTalk, CUM, 2002].

Indeks     Index