GOD KEN JOU SMARTE... | |
  |
Vir vierhonderd jaar is die volk Israel in Egipte verdruk. God het dit reeds aan Abraham bekend gemaak: "Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank" (Génesis 15:13). Na verloop van hierdie tyd, het God aan Moses verskyn in die brandende doringbos en vir hom gesê: "Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond" (Eksodus 3:5). Nadat Hy Hom aan Moses geopenbaar het as die God van Abraham, Isak en Jakob, sê Hy: "Ek het duidelik gesien die ellende van My volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte" (Eksodus 3:7). Drie dinge val hier op: (1) God het die ellende van die volk gesien. So is God se oog op al Sy kinders. Hy sien alles. Hy sien ook jóú omstandighede. Hy is nie blind vir die verontregting wat jou te beurt val nie. (2) God het die jammerklagte van Sy volk gehoor. Wanneer jy tot Hom roep, dan hoor Hy, want Hy is ‘n Antwoorder van gebed. In Ps. 50:15 sê Hy: "…roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer." Moenie moed verloor wanneer daar nie onmiddellik ‘n antwoord kom nie. Hou aan met bid en hou aan met glo! God sal hoor! In Lukas 18:1 staan daar: "En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie…" Dit is die boodskap van die gelykenis! En dan gaan Jesus voort en vertel die gelykenis van die weduwee wat gedurig na die onregverdige regter gegaan en gevra het dat hy reg moet laat geskied teenoor haar teëparty. Uiteindelik gee hy toe. Dan sê Jesus: "Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen…" (Verse 6-7). (3) God sê: "Ek ken hulle smarte." Hy ken ook jou smarte. Die Hebreeuse woord vir "smarte" is makob, wat deur die Hebreeuse woordeboek omskryf word as fisiese pyn, emosionele pyn, en smarte. Dit sluit dus ook in daardie innerlike pyn wat jy vir niemand kan beskryf nie. Dit is die pyn en leed wat ander jou aangedoen het, wat jou hart stukkend gebreek het. In Jes. 53:4-5 staan geskryf m.b.t. Jesus: "Nogtans het Hy óns krank-hede op Hom geneem, en óns smarte (makob) - dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom." Jesus sterf dus vir die hele mens: Ons smarte, oortredinge, ons ongeregtighede én: "…deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom." Dan sê God verder vir Moses: "Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egip-tenaars te verlos…" (Eks. 3:8). Die goeie nuus is dat God ook jóú kom verlos. Ja, Hy ken jou smarte, en Hy genees ook vir jóú! Hou aan glo en bid tot die lig deurbreek! © Dr. JJ Venter |