HOE OM NABY GOD TE LEWE

  Na die tragiese dood van ons seun 23 jaar gelede, was ek in diepe droefheid gedompel. Dag en nag was my gedagtes by my seun. Ek kon aan niks anders dink nie!

Op 'n dag het ek besef dat ek nie só kon aangaan nie. Ek was radeloos... Ek sou iets moes doen! Maar wat en hoe? Waar begin ek?

Dis toe dat 'n pastorale berader my tot die insig gebring het dat ek my "gedagtes" moet verander. Hy het sy terapie gebaseer op Romeine 12:2 "...laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is." Wat 'n verlossende openbaring! As ek my gedagtes verander, gaan ek beter voel want dis my gedagtes wat my pynig!

Van daardie dag af het ek Bybeltekste begin memoriseer en het ek geleidelik beter begin voel. Daarom liewe vriende, wil ek julle oproep om ook Skrifgedeeltes te memoriseer.

Om my verder te help, het ek aan alles wat ek sien of doen 'n Bybelvers gekoppel. Ek het by my eie liggaam begin:

Hare: As ek my hare in die oggend kam, dan dink ek aan Jesus se woorde: "Van julle is selfs die hare op julle koppe almal getel" (Matt.10:30).

Oë: Die Here versorg jou soos die appel van Sy oog (Deut. 32:10). "Die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou" (2 Kron. 16:9). "Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik en die onsigbare dinge ewig" (2 Kor. 4:18). "Hou jou oog gevestig op Jesus" (Heb. 12:2). "Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou" (Ps.32:8). "Hy het Sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn" (Deut.2:7).

Arms: "Die Here se arm is nie te kort om te help nie" (Jes. 59:1). "Die ewige God is 'n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou" (Deut. 34:27).

Hande: "Ek het jou naam in My handpalms gegraveer" (Jes. 49:16). "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand" (Jes. 41:13). "Ek bly altyd naby aan U. U hand ondersteun my" (Ps.63:9). "Ek gee hulle die ewige lewe en niemand sal hulle uit My hand ruk nie" (Joh. 10:28).

Voete: Jesus was Sy dissipels se voete (Joh. 13:5). "Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie" (Ps.91:12).

Skoene: "Trek die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig soos skoene aan julle voete" (Ef. 6:14).

Bed: "As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag dan weet ek: U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder U vleuels" (Ps.63:7,8).

As jy opstaan soggens: "Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit" (Ps.139:2).

Jou naam: "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor My Vader en voor die engele verklaar dat hy aan My behoort" (Op. 3:5). "...Ek sal vir hom 'n spierwit klippie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry" (Op. 2:17). "Hulle sal Hom sien, en Sy Naam sal op hulle voorkoppe wees" (Op. 22:4).

Voëls: "Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle Hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?" (Mark. 6:26). "Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie" (Matt.10:29).

Sout: "Julle is die sout van die aarde" (Matt. 5:13).

Gras: "Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig" (Jes. 40:8).

Riet: "'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie" (Jes. 42:3).

Lelies: "Let op die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Salomo, in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie" (Matt. 6: 28,29).

Reën: "Hy sal na jou toe kom soos stortreën, Hy sal jou verkwik soos lentereëns die grond verkwik" (Hos. 6:3).

Boom: "As ons ons vreugde in die Here vind, is ons soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie" (Ps. 1:3).

Son: "Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son" (Matt.13:43). "Die Here sal verskyn so seker as die son skyn" (Hos. 6:3). "Jou son en jou maan is die Here. Hy gaan nie onder en Hy word nie dof nie" (Mal.1:11).

Dou: "My woorde verkwik julle soos dou" (Deut. 32:2).

Druiwe: "Israel was vir My soos druiwe waarop 'n mens in die woestyn afkom" (Hos. 9:10).

Wind: "Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom nie en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is" (Joh. 3:8).

Water: "Met die een wat in My glo, is soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei" (Joh. 7:38).

Deur: Jesus is die deur waardeur ons na die hemel gaan. "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie" (Joh. 14:6).

Wolke: "Hy ry deur die hemel om jou te kom help; in Sy majesteit ry Hy op die wolke" (Deut. 33:26). "Jesus kom eendag terug op die wolke" (1Tess. 4:16).

Brood: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom sal nooit honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit dors kry nie" (Joh. 6:35).

Vuur: "As jy deur die vuur gaan, sal dit jou nie skroei nie, en die vlamme sal jou nie brand nie" (Jes.43:2).

Lig: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee" (Joh. 8:12). "In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn deur die duisternis, die duisternis kan dit nie uitdoof nie" (Joh. 1:4,5).

Skat: "Oor U Woord is ek so bly soos iemand wat 'n groot skat in die hande gekry het" (Ps. 119:162). "Waar jou skat is daar sal jou hart wees" (Matt. 6:21).

Bid: "Die gebede van die gelowiges is in 'n goue bak wat soos wierook voor die Here opstyg" (Op. 5:8). "Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking" (Jak. 6:16).

Goud: "Ek het U gebooie liewer as goud, as fyn goud" (Ps.119:127). "Die bepalings van die Here is reg, elkeen is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud" (Ps.19:10).

Heuning: "Die bepalings van die Here is reg... Hulle is kosbaarder as goud... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek" (Ps. 19:10).

Sing: "Sing tot eer van die Here 'n nuwe lied" (Jes. 42:10). "Teen middernag was Paulus en Silas (in die tronk) besig om te bid en tot lof van God te sing" (Hand. 16:25). "...en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere: sing met julle hele hart tot eer van die Here" (Ef. 5:19).

Vergeet: "Kan 'n vrou haar eie baba vergeet? Selfs al sou so iets kan gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie" (Jes. 49:15).

Kinders: "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" (Joh. 1:12).

Huil: "Hy sal al die trane van hulle oë afdroog" (Op. 21:4). "Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy ook en huil terwyl hy die saadsak dra, hy kom juigend terug, terwyl hy die gerwe dra" (Ps.126:5).

Uiterlike verval (Ouderdom): "Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe" (2 Kor. 4:16).

Swaarkry (Lyding): "Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly" (2 Kor.4:17). "Ek is daarvan oortuig dat die swaarkry wat ons hier verduur nie opweeg teenoor die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie" (Rom. 8:18).

Gedagtes: "Mag wat ek sê en wat ek dink tog aanneemlik wees, Here, my God en my Verlosser" (Ps.19:15). "Wees veral versigtig wat in jou hart (denke) omgaan want dit bepaal jou hele lewe" (Spr. 4:23).

Onverstaanbare dinge: (Toe Jesus Sy dissipels se voete gewas het.) "Wat ek doen begryp julle nie nou nie, maar later sal julle dit verstaan" (Joh. 13:17). "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken" (1 Kor. 13:12,13).

Liefde: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê" (Joh.3:16). "God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom" (1 Joh. 4:16). "Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam" (1 Joh. 5:3).

Liewe leser, ek wil u aanmoedig om teksverse uit die Bybel te memoriseer. Skryf dit op 'n kaartjie en dra dit saam met jou.

Om Woordvervuld te wees beteken om Geesvervuld te wees!

So hou jy jou gedagtes weg van verkeerde dinge wat jou in sonde kan laat val (Ps. 141:4). Dan doen jy wat Paulus in Filippense 4:8 aanbeveel, naamlik om jou gedagtes op alles wat reg, goed en edel is te rig.

Die belangrikste is dat jy dan naby aan God lewe. Henog het naby God gelewe (Gen. 5:24). Duisende jare later word daar nog van Henog in Hebreërs gesê: "Henog het gelewe soos God dit wou." Mag daar ook eendag so 'n getuigskrif van ons wees!

- Amanda Lotz. Vir hulp en troos, kan u haar skakel by 018 290 7929 of 082 772 6559. Amanda se boek, "Deur Water en Vuur na Oorvloed", is ook by haar beskikbaar.


Indeks     Index