HELP MY OM DIE REGTE SPOOR TE TRAP |
|
  |
Pas na ons troue het my vrou en ek 'n gemeente in 'n klein Oos-Kaapse dorpie bedien. Daar het ons met Anna kennis gemaak. Sy was 'n formidabele Kleurlingvrou vir wie se hande niks verkeerd gestaan het nie. Sy was ons huishulp. Elke oggend het ons stiltetyd gehou voordat sy begin het met haar dagtaak. Op die eerste oggend het sy die begeerte uitgespreek om haar lewe aan die Here toe te wy. Ons het haar na die Here gelei en sy het waarlik tot bekering gekom en daarna volhard om die Here te dien. 'n Rukkie later het haar dogter van sestien elke dag met haar saamgekom - nie om te werk nie, maar vir die stiltetyd! Daarna sou sy huis toe gaan. Een van díé oggende het sy gebid: "Here, help vir my ma en vir my pa om vir my die regte spoor te trap." Hierdie woorde het my só aangegryp! Ek was nog jonk in die bediening, en deur die jare sou dit ook mý gebed word: "Here, help mý om vir ander mense, vir wie ek verantwoordelik is, ook die regte spoor te trap." Hulle moet my kan navolg soos ek ook Christus navolg. Is dit nie wat Paulus bedoel het toe hy aan die gemeente van Filippi geskryf het nie? "Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het" (Fil. 3:17). En ook: "En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees" (Fil. 4:9). Paulus sê in effek: "Kyk na my! Doen net soos ek doen! Rig julle lewe in soos jule sien hoe ek dit doen!" Of wil ons eerder sê: "Moenie na my kyk nie! Ek is 'n swak en onvolmaakte mens vol foute!" Nee! Wéés die voorbeeld wat God wil hê jy moet wees! Onthou, of jy daarvan bewus is of nie, daar is altyd ander mense wat jou dophou. Ander wat respek het vir jou en jou wandel met God. Ander wat jou hulp en aanmoediging nodig het. Dit mag by jou werk wees, of enige plek waar jy met ander mense te doen kry. Dit sal noodwendig ook in jou eie huis wees! Of sal dieselfde reël vir jou geld wat ek al dikwels gehoor het: As jy wil weet watter soort mens iemand is, vra sy of haar bediende in die huis. Vra sy vrou en sy kinders watter soort mens hy is. Ek het eenmaal, tot my groot ontsteltenis, gehoor van die predikant wat van die preekstoel af vir die mense geleer het hoe dit in die huwelik moet wees tussen man en vrou. En terwyl hy nog so praat, het sy vrou en kinders opgestaan en uitgestap... Bid eerder: "Here, help my om die regte spoor te trap, sodat wat ék doen, navolgenswaardig sal wees. Soos ek praat, moet ander ook praat. Soos ek lewe, moet ander ook lewe. Waar ek my voet neersit, moet ander ook hul voet neersit." Laat ons áltyd 'n ambas-sadeur vir Jesus wees! Jesus het gesê: "My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My" (Joh. 10:27). WEES SOOS JESUS! © Dr. JJ Venter |