GOD SE GENADE EN BESKERMING IS ONOORTREFLIK! | |
  |
Donderdag. 21 September. Vieruur se spitsverkeer. Ons Tata gee bes! Gaan staan morsdoodstil... My denkvermoëns ook skielik botstil. Weet nie waar die knoppie is om waarskuwingsligte aan te sit nie. 'n Wanhoopsug uit my binneste roep tot God my Vader: "Ag my Heer, help my asseblief!" Op die N12 net 'n entjie na die verkeersligte oorkant KFC, by die Caltex Garage en Mooirivier Mall, naby die Paryslaan-afrit speel hierdie gevaarlike situasie hom af. Motors van 6 kante wat mekaar afwissel en ek staan vrou-alleen in die pad! Skielik kom 'n jongman, steek sy hand op en dui aan 'n aankomende vragmotor wat op my afpyl dat hy links van my moet verbygaan. Só het hy aanhoudend die verkeer op 'n wonderbare manier gereguleer terwyl hy elke nou en dan ons motor gestoot het en ek agteruit moes ry en afdraai na die Caltex Garage om uit die pad te kom! In die proses het 'n ander jongman wat na die Mall wou uitdraai, uit sy motor geklim en sy vrou het na die Mall gery. Hy het toe die eerste jongman help stoot. Na 'n angsvolle tydsverloop het hulle twee my by die Garage gekry en my 'n tyd lank moed ingepraat. Ek het opnuut besef hoeveel ordentlike en kosbare manne daar nog in vandag se lewe is en ek het die Here gevra om hulle uitermate te seën! Selfs toe ek buite gevaar was en nog in my motor gesit het op die Garage se perseel, het 'n middeljarige man stilgehou en my gevra hoe hy my kon help. (Toe was my waarskuwingsligte nog aan wat ek in al die geharwar darem uiteindelik aangekry het). Ook sy vriendelikheid en hulpvaardigheid het my geweldig bemoedig. My hart loop oor van dankbaarheid en ek eer die HERE vir Sy ingryping en beskerming! Ek is daarby ook só oneindig dankbaar vir twee jongmanne wat uit hul pad gegaan het om my te help en te ondersteun! Sonder hulle hulp kon daar werklik 'n baie erge en moontlik noodlottige kettingbotsing plaasgevind het! "Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied (en my hele hart)" (Ps. 28:6-7). "Loof die Here, want Hy is goed. Aan Sy liefde is daar geen einde nie!" (Ps. 136:1). - Huegene Venter, 018 293 1996 |