DIE ROTS WAAROP ONS MOET BOU
 
In Matteus 16 lees ons van die "rots" waarop Jesus Sy Kerk bou. Wie of wat is hierdie rots waarop die Kerk gebou word?

Toe Jesus aan Sy dissipels gevra het, "Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens is?" het hulle met 'n verskeidenheid antwoorde vorendag gekom (Matt. 16:13-14). Jesus het toe verder gegaan en hulle persoonlik aangespreek: "Maar julle, wie sê julle is Ek?" (vers 15). Hierop het Simon Petrus geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God" (vers 16). Daarna het Jesus vir hom gesê: "Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar My Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek My gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie" (verse 17-18).

Dit is uiters belangrik dat ons na die Griekse taal, waarin die Nuwe Testament aanvanklik geskryf is, sal gaan om die ware betekenis na te speur wanneer hier na "rots" verwys word, aangesien dit die fondament moet wees waarop Christus Sy Kerk gaan bou. Hierdie fondament moet 'n soliede, onwankelbare rots wees wat as basis kan dien vir Sy totale Kerk. Dit moet ook só sterk en solied wees dat "die poorte van die doderyk" dit nie sal kan oorweldig of negeer nie. Dit moet met ander woorde kan standhou tot in ewigheid!

Let ons dan op na die Griekse weergawe, lees dit só: "Jy is Petrus (Grieks = petros, d.i. klein klippie), en op hierdie rots (Grieks = petra, d.i. groot rotsbank of groot klip), sal Ek My gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie." Dit is dus nie moontlik dat Jesus hier bedoel het dat Petrus die "rots" is waarop Hy Sy Kerk sou bou nie. Petrus, 'n swak nietige mens, kon nie 'n soliede, onwankelbare rots wees nie! Trouens, Petrus het Jesus kort hierna verloën! (Dit impliseer dan ook dat géén ander swakke mens hierdie rol sou kon vervul nie.)

Hier is dus 'n duidelike aanduiding dat Jesus nie kon bedoel het dat Petrus die rots is nie, anders sou Hy in die tweede gebruik wéér petros gesê het, en nie petra nie. Jesus spreek tot Petrus, maar sê nie vir hom "Op jou sal Ek my Kerk bou" nie. Nee, Jesus sê egter baie duidelik: "Op hierdie rots(bank) (petra) sal Ek My gemeente bou."

Petrus antwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God". Hierdie belydenis spel dan eintlik uit dat Jesus Christus die soliede, standhoudende, onwankelbare ROTS is waarop Sy Kerk gebou sou word! Die Naam 'Jesus' beteken: "Jahwe is Redding", en dit dui aan dat die saligheid slegs in Jesus Christus opgesluit is. In Hóm alleen is daar redding vir 'n verloregaande wêreld.

Wanneer Petrus sê: "U is die Christus (Grieks = Christos, d.i. "Gesalfde" of in Hebreeus "Messias") ...die Seun van die lewende God" beteken dit hy bely Jesus as God. Dit het die Jode van hul tyd goed verstaan. In Lukas 22:70-71 kom 'n gesprek tussen Jesus en die Jode ter sprake: "En hulle sê almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat Ek dit is. Daarop sê hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit Sy mond gehoor." Verder staan daar ook die volgende greep van 'n gesprek tussen Jesus en die Jode in Johannes 10:30-33: "Ek en die Vader is een. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van My Vader. Oor watter een van díé werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor 'n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslas-tering, en omdat U wat 'n mens is, Uself God maak."

Jesus se Godheid kom dus in hierdie belydenis van Petrus ter sprake. Verdere Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament bevestig hierdie saak (vgl. Hand. 8:37; 1 Joh. 4:15; 1 Joh. 5:5; 1 Joh. 5:12-13) waar mense wat tot geloof in Jesus Christus gekom het, Hom ook as Seun van God bely het. Hulle word dus as lede van die Kerk op die Rots gebou. Elkeen wat hierdie belydenis van Petrus, wat deur die Vader in die hemele aan hom geopenbaar is, op sy lippe neem, sal die inhoud daarvan moet internaliseer om op die ROTS gebou te word.

Daar is géén ander manier of geloof wat ons tot God sal bring, of ons in die hemel sal bring nie. God Self het die fondament - JESUS CHRISTUS - gelê waarop ons moet bou! Die poorte van die doderyk het die Kerk nog nooit oorweldig nie! Deur al die eeue heen het Jesus Christus Sy Kerk op Homself, DIE ROTS, gebou. Daarom kan die poorte van die doderyk dit nie oorweldig of vernietig nie!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index