ONS VADER SE BAWARING EN VOORSIENING



 
In Finland wroeg 'n man voor die aangesig van die Here. Hy het 'n baie sterk drang in sy hart om aan die Here 'n dankoffer te bring. Maar aan wie moet hy dit gee? Terwyl hy bid en daaroor nadink, kom 'n man met wie hy meer as twintig jaar gelede te doen gehad het, se naam by hom op. Hy begin soek... Met die hedendaagse tegnologie is so 'n soektog nie te moeilik nie en hy stuur 'n e-pos na Suid-Afrika.

Sowat ses weke gelede is my man in 'n gastehuis in Amanzimtoti tuis. Hy reis die hele land vol as genooide spreker. Hy arriveer die Saterdagaand daar, moeg van die ver reis. Hy bel my om te sê hy het veilig aangekom en hy gaan sommer vroeg inkruip.

Sondagoggend staan hy baie vroeg op om tyd met die Woord deur te bring voordat hy gaan bedien. Hy soek sy selfoon om seker te maak van die tyd, maar vind dit nie. Vreemd, want hy onthou dat hy die vorige aand met my gesels het net voordat hy gaan slaap het. Miskien het hy dit ingedagte in sy motor gaan sit. Hy soek na sy motorsleutels. Vind dit ook nie. Toe begin hy besef dat daar beslis iewers fout is. Hy stap na die voordeur en sien dat die deur met geweld oopgebreek is! Toe hy na buite kyk, besef hy dat sy motor gesteel is! Nie 'n goeie ondervinding kort voordat jy die Woord moet bedien nie!

Haastig stort en trek hy aan om die eienaar van die gastehuis, wat net langsaan woon, te vra dat hulle die polisie skakel. Kort daarna kom die polisie met die nuus dat hulle sy motor gevind het waar die diewe teen 'n muur gebots het.

Goddank was sy boeke en DVD's wat hy altyd saamneem, ongedeerd in die motor agtergelaat. Sy beursie lê ook op die voorste sitplek met al sy bankkaarte! Net die kontant is weg. Nog 'n rede om dankbaar te wees, want ons ken almal die ongerief van bankkaarte kanselleer en dit boonop sonder selfoon en sonder 'n motor.

Die gastehuiseienaar (wie se vrou vroeërjare in een van ons gemeentes aanbid het), is baie behulpsaam en vervoer hom oral na waar hy moet wees. Toe my man, Lemmer, begin soek na sy skootrekenaar, besef hy dat dié ook gesteel is. Weer eens, Goddank, 'n paar dae vantevore het hy gaan sit en fisies al sy afsprake wat vooruit gemaak is per hand neergeskryf, asook al die telefoon- en selnommers van kontakte. Hoe het die Here vooruit reeds begin om dinge vir Sy kind makliker te maak in hierdie moeilike omstandighede! Interessant is dat Lemmer die enigste gas in die gastehuis was en hy het met 'n met 'n oop deur geslaap! Ek kan my net indink hoe die Here 'n engel opdrag gegee het om Sy dienskneg te bewaak. Gewoonlik slaap hy redelik lig, maar daardie nag het die Here aan hom 'n diepe slaap gegee.

'n Oudstudent bied my man die gebruik van 'n motor aan terwyl hy in Natal besig was en so kon hy met groot gerief sy bedieningsaangeleenthede daar nakom. Hierna vlieg hy huis toe vir 'n paar dae se rus en om al die sake rondom die versekering af te handel. Intussen is ons seun besig om op die internet rond te soek na 'n geskikte motor. Die karige uitbetaling van die versekering sou beslis nie die aankoop van 'n goeie motor akkommodeer nie.

Intussen ontvang ons die e-pos vanuit Finland van 'n man wat dekades terug in ons gemeente aanbid het. Hy is later met 'n Finse vrou getroud en het na Finland verhuis. Hy meld dat hy graag 'n dankoffer aan die Here wil bring en dat hy dit aan Lemmer du Plessis-Bedieninge wil gee.

In Paardeneiland, Kaapstad staan daar 'n motor wat 'n man kom inruil het. Die motor is 'n 2011-model en dit was duidelik dat die eienaar minder as 20 000 km per jaar gery het. Ideaal dus vir Lemmer se behoefte! Versigtig-optimisties ry ons Kaapstad toe om die motor te gaan besigtig nadat ons werklik gebid het dat die Here voor ons sal uitgaan en toesien dat ons die regte besluit sal neem.

Toe ons instap, staan die motor reg voor ons. Die prys is R10 000 minder as wat vermeld is! Hoe voorsien die Here tog! Dit was liefde met die eerste oogopslag en ons het die vrede van die Here ervaar. Lemmer vlieg toe terug Johannesburg toe om met sy werk voort te gaan totdat hy die motor 'n paar dae later in ontvangs kon neem. Die voorsiening van die Here uit Finland het die prys van die motor volledig gedek! Toe hy 'n selfoonbesigheid besoek om 'n nuwe selfoon te koop, kry hy die goeie nuus dat hy kwalifiseer vir 'n opgradering en daar kry hy 'n nuwe selfoon! Vader het ook geweet dat die skootrekenaar se beste dae al lankal agter die rug was en die versekering het dit ook gedek!

Aan die Here kom toe die eer, die lof, aanbidding en dankbaarheid van ons harte omdat Hy 'n Vader sonder gelyke is! Hoe groot jou nood of jou behoefte of skade ook al mag wees, neem jou toevlug tot God jou Vader wat jou oneindig liefhet!

- Helen du Plessis, Hermanus
Sel: 083 332 0895



Indeks     Index