In Jesus se omwandelinge tydens Sy aardse bediening het Hy groot wonderwerke gedoen. Een van die grootste was seker die genesing van siek liggame. Hierdie wonderwerke het 'n tweeledige uitwerking gehad: positief of negatief.

Diegene wat positief gereageer het, wou net meer en meer van Hom weet, en dus wou hulle soveel moontlik tyd in Sy Teenwoordigheid deurbring. Hulle wou alles van Hom leer wat hulle kon. Hy is deur hulle aanvaar as die Messias. Hulle Koning was Hy! Met betrekking tot die vrou wat Sy voete gesalf het, het Jesus Sélf gesê: "Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief" (Luk. 7:47).

Daar was egter ook diegene wat negatief gereageer het, o.a. die volksleiers wat Hom nie wou aanvaar nie.

Negatief of positief, almal moes noodwendig van Hom kennis neem. In die verhaal van die verlamde man speel die volgende gebeure wat sy genesing voorafgegaan het af, terwyl Jesus lering gegee het.

Die Gehoor
"En op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees" (Luk. 5:17).

Sy gehoor het dus hoofsaaklik bestaan uit mense wat vyandig jeens Hom was en wat uit "elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem" gekom het. Wat 'n gehoor om toe te spreek! Hy moes 'n positiewe boodskap bring aan mense wat heeltemal negatief ingestel was en net gekyk het waar hulle Hom op 'n woord kon betrap sodat hulle iets kon vind op grond waarvan hulle Hom kon beskuldig. Hulle wou Hom aankla van die verbreking van die Sabbat, Godslastering en vals verkondiging van die Woord.

Die Getuienis
Maar: "...daar was krag van die Here om hulle te genees." Die Heilige Gees het Hom ondersteun. Let op, daar was krag om hulle te genees. Dus, óók vir die mense wat Hom wou veroordeel.

Die grootste kritiek teenoor Hom kon egter nie die krag om te genees, uitwis nie. Ook hulle kon genade by God vind as hulle dit net wou aanneem! Oral waar Jesus gegaan het, was daar krag om te genees - daarom het Hy dan ook so baie genesings gedoen. Hy was altyd gereed om blindes te laat sien, kreupels te laat loop en dowes te laat hoor. Matt. 9:35 verklaar: "En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees." Nou hier ook! Maar hulle wou nie. Hulle verwerp dit. Hoe tragies!

Daar was egter wél 'n groepie wat geloof in Hom geplaas het - met verreikende gevolge!

Geloof
"En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring..." (Luk 5:18). Hierdie groepie, nie deel van die oorspronklike gehoor nie, het vrymoedigheid geneem om hulle geloof in werking te stel. Hulle moes egter sekere struikelblokke oorkom, maar hullle doen dit met groot geloof! Vanweë die skare kon hulle nie naby Jesus kom nie. Hulle klim toe op die dak, maak dit bo oop en laat sak hom op sy bed tot voor Jesus wat hulle geloof geëer het. Hy sê vir die verlamde man: "Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe" (Luk. 5:24).

Die gevolg van volkome geloof in God - 'n volmaakte genesing! Let op: Ander mense het vir hierdie man geglo, en Jesus het genees. Jesus Self het gesê: "...as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo" (Mark. 9:23).

Liewe leser, as jy hier met verwagting gelees het, dan is jy nie deel van die klomp Fariseërs en Skrifgeleerdes wat nié geglo het nié. Stel jou geloof in Jesus! Hy genees nóg vandag, Hy doop nóg met Sy Heilige Gees, Hy los nóg probleme op, Hy antwoord nóg wanneer ons Hom aanroep terwyl ons in groot nood verkeer. Want "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid" (Heb. 13:8). En Hy roep: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig" (Matt. 11:28-30).

Vir die verlamde man het Hy gesê: "Mens, jou sondes is jou vergewe" (Luk. 5:20). Sal jy nóú kom en jou lewe aan Hom toevertrou? Sal jy Hom nou vir vergifnis van sondes, en genesing vir jou liggaam en siel vra? Daarvoor het Hy vir jou op die kruis gesterf!

© Dr. JJ Venter

Indeks     Index