GRATIS BYBELS VIR DIE ARMES | |
  |
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) gaan Bybels en Bybelgedeeltes ten bedrae van bykans R1 miljoen gratis aan Kerke en Christelike Organisasies beskikbaar stel. Hierdie besluit is tydens die Nasionale Raads-vergadering van die BSA op 18 Aug. 2005 geneem. Dié Bybels en Bybelgedeeltes sal oor 'n tydperk gratis beskikbaar gestel word op voorwaarde dat dit op 'n verantwoordelike wyse versprei word en nie verkoop sal word nie. "Die Bybelgenootskap is diep bewus van die behoefte aan Bybels in ons eie land en op ons vasteland," sê ds. Gerrit Kritzinger, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. "Daarom is ons baie dankbaar dat die Raad ons toelaat om hierdie aantal Bybels en Bybel-gedeeltes gratis aan verdienstelike gevalle beskikbaar te stel," het hy bygevoeg. Die beleid van die BSA is en bly steeds om, getrou aan sy missie, bekostigbare Bybels beskikbaar te stel. Die Genootskap streef egter daarna om hierdie taak so effektief as moontlik uit te voer. Om dié rede is daar besluit om die versending van voorraad vanaf een sentrale punt te onderneem. Hierdie proses het teweeggebring dat sekere Bybels en Bybel-gedeeltes beskikbaar is vir gratis verspreiding onder mense wat andersins nie 'n Bybel sal kan bekostig nie. Die eerste organisasie om by die program te baat, is die Bybelgenootskap van Lesotho. Agtduisend Bybels, ter waarde van R111 200, gaan binnekort aan hierdie Genootskap geskenk word. Bybelwerk in Lesotho bied groot uitdagings en daar is 'n groot behoefte aan bekostigbare Bybels. Faktore soos werkloosheid, en veral 'n baie hoë voorkoms van MIV/VIGS (feitlik 30% van die bevolking is MIV-positief), het ernstige ekonomiese probleme in die land tot gevolg. Dit beïnvloed ook die Bybelgenootskap daar. Weens 'n gebrek aan geldelike ondersteuning, is dit nie vir dié Genootskap moontlik om Bybels aan al sy mense te voorsien nie. Die BSA het histories 'n baie nou verbintenis met die Bybelgenootskap in Lesotho. 'n Groot groep Suid-Afrikaners deel 'n gemeenskaplike taal met die inwoners van Lesotho en hulle word bedien deur 'n gemeenskaplike Bybelvertaling. Verder het Bybelwerk vanuit Suid-Afrika gelei tot die totstandkoming van 'n onafhanklike Bybel-genootskap in Lesotho. Mediavrystelling: Mims Turley, Tel: (021) 421 2040 of Sel: 083-255-5765 |